Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Gebou steen vir steen weggedra

Gebou steen vir steen weggedra
 
2005-06-02

Susan Botha

ONS moet nou sportgeriewe beskerm teen die gemeenskap vir wie dit opgerig is. Só het ’n ontstelde burgemeester Herman Bailey onlangs gesê oor die skade wat oral in Drakenstein aangerig word.

In die jongste voorval is vandale en diewe besig om die kleedkamergebou op die New Orleans sportterrein in Van der Stelstraat, Paarl-Oos, stuk-stuk af te breek.

By ’n onlangse vergadering van die Burgemeesterskomitee is verslag gedoen en gesê die R140 000 wat beskikbaar gemaak is vir die opgradering is nie genoeg om die skade te herstel nie.

Dit sluit in die vervanging van storte, warmwatertenks, toilette, banke, deure en krag.

Hoewel die terrein deur die munisipaliteit met ’n staalheining afgesper is, steur die diewe hulle nie daaraan nie, maar buig dit eenvoudig weg om toegang te kry.

Die binnemure wat die toilette en storte geskei het, is ook heeltemal afgebreek nadat die dak en plafon verwyder is. Al die binne -en buitedeure, sowel as die vensters is uitgebreek. Die dakbalke word nou ook weggedra.

Die gronde word ook as deurloop gebruik terwyl mense binne die oorblyfsels van die gebou ontlas.

In die verslag beveel die Departement Gemeenskapsdienste aan dat die huidige struktuur, of wat oor is daarvan, verwyder word en twee vraghouers aangekoop word om te dien as kleedkamers en ablusiegeriewe.

Die houers is soortgelyk aan dié wat reeds geruime tyd by die Parys-velde gebruik word.

Die koste vir twee houers is R118 885, plus R10 000 vir die aansluiting van krag en water.

Tommy Matthee, waarnemende hoof van Gemeenskapsdienste, sê daar sal gekyk moet word na beveiliging van sportvelde.

Sokker

“Die hartseer daarvan is dat daar vandalisme plaasvind selfs by die velde waar daar ’n opsigter is,” het die burgemeester sy ontsteltenis uitgespreek.

Raadslid Bokkie Claasen, in wie se wyk die New Orleans terrein val, het beswaar gemaak teen die benutting van vraghouers.

Sy het die komitee gevra vir tyd, sodat sy met plaaslike ambagsmanne kan praat oor die herstel van die kleedkamers.
Haar versoek is toegestaan en die saak sal binnekort weer voor die komitee dien.

Intussen het woordvoerders van die sokkerliggame wat die velde gebruik, hul ontevredenheid uitgespreek.

Lutfie Hendricks, president van die Drakenstein Sokker-unie, en Sithembele Kaba van die Paarl-unie, sê hulle het al male sonder tal met amptenare beraadslaag.

Die twee unies is besig met samesprekings om saam te smelt en die kwessie van voldoende en ordentlike geriewe is hoog op die lys van prioriteite.

Hendricks sê hulle het selfs al briewe aan die provinsiale en nasionale ministers van sport geskryf om hul lot te bekla. Tot dusver het hulle nog geen reaksie gehad nie.

“Dit is ’n suur storie,” meen Hendricks. “Die New Orleansvelde sou reeds in April gereed gewees het vir ons seisoen.

“Toe is daar belowe dat die velde ’n bolaag sal kry sodat ons dit verlede week in gebruik kon neem. Daar het nog niks gebeur nie.”

Hendricks sê hulle sal, sodra die velde opgegradeer is, ’n vergadering met die gemeenskap hou om te verseker dat daar nie weer
vandalisme plaasvind nie.

Kaba sê die sokkergeriewe in Drakenstein laat veel te wense oor.
Hy stem saam met Hendricks dat die Munisipaliteit te lank draai om skade te herstel.

“Mense sien daar word niks gedoen nie en gebruik die geleentheid om nog verder af te breek en te verniel.”

Hy sê behalwe die velde in New Orleans, is daar ook die geriewe in Mbekweni wat ernstige aandag nodig het.

Volgens hom is die kleedkamers in Mbekweni só verniel en vuil dat spelers in hul motors moet verklee voor en na wedstryde.

Kaba het ook ’n beroep op die private sektor gedoen om betrokke te raak en te help met ontwikkeling van sokker.

Kaba en sy kollega het dit beklemtoon dat die 2010 Wêreldbekertoernooi om die draai is en dat Drakenstein sy sokkies sal moet optrek as hulle die geleentheid na behore wil benut.

* The dressing room at the New Orleans soccer field is being demolished by vandals.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za