Bulle buig Bolanders
2007-08-08
Jacques Rossouw
DIE Boland Kavaliers het verlede Vrydag op Loftus Versfeld in Pretoria sterk gestaan tydens hul 36-12 nederlaag teen die verdedigende Curriebeker-kampioene, die Blou Bulle.
Na verwagting moes die punteverskil in hierdie eensydige kragmeting veel meer as 24 gewees het, met die besoekers wat vir 70 minute van die wedstryd op die verdediging was.
Die kleiner en minder ervare Boland-agttal het die gevreesde Bul-maalbewegings goed teengestaan, maar moes uieindelik onder die druk swig, met die tuisspan wat vyf drieë aangeteken het.
Justin Peach, die heelagter van Boland, het kort voor rustyd die Bulle se verdedigingslyn gebreek vir die besoekers se eerste drie.
Die vleuel, Jongi Nokwe, het gedurende die tweede helfte Boland se tweede drie gedruk terwyl Isma-eel Dollie (losskakel) met een doelskop geslaag het.
Die Bolanders kom Saterdag teen die Goue Leeus by Boland-stadion op Wellington te staan.
Die wedstryd begin om 15:00 en kaartjies sal beskikbaar wees by Pêrel Sport, Boland Rugby-kantore en die stadion.
More
News
|