Bergrivier baljaar ná oorwinning
2007-08-08
Lise Beyers
BERGRIVIER SEKONDËR het die afgelope naweek met die louere weggedraf toe hulle vir ’n tweede agtereenvolgende jaar vir Weltevrede in die rugbyderby geklop het met 11-7.
Alhoewel die weersomstandighede Saterdag bykans perfek was vir hierdie kragmeting, is die veld van Boland-stadion vinnig omskep in ’n modderbad weens die afgelope ruk se aanhoudende reën.
Dit het daartoe gelei dat albei spanne gesukkel het met hanteringsfoute en nooit lekker op dreef kon kom nie.
Kort na die begin van dié wedstryd het dit gelyk asof die skeidsregter, Ed Lubbe, sy hande vol gaan hê om dissipline op die veld te handhaaf, maar nadat Beres Booysen van Bergrivier met ’n geelkaart van die veld gestuur is vir ’n gevaarlike hoogvat, het die manne rustiger geraak sonder enige verdere voorvalle.
Bergrivier het van die staanspoor af die eerste helfte oorheers en ’n skitterende drie deur hul blitsige vleuel, Adriaan Koopman, het vir hulle teen rustyd met 8-0 laat voorloop.
Dit het egter nie vir Weltevrede gestuit nie en met hul terugkeer na die veld het hulle onverpoos begin terugveg.
Binne enkele minute nadat die fluitjie geblaas het vir die afskop van dié helfte, is Bergrivier aan die slaap betrap toe Ricardo van Wyk ’n pragdrie reg onder die pale gaan druk het.
Van hier af het Weltevrede geboer in Bergrivier se helfte. Hulle kon egter nooit deurbreek vir ’n wendrie nie. Bergrivier se verdediging was net té sterk hiervoor.
Albei spanne het gesukkel met hul stelskoppe en dit het beslis ’n uitwerking gehad op die eind-resultaat van die wedstryd.
More
News
|