Gimmies vier oorwinning
2007-08-08
Jacques Rossouw
DIE Hoërskool Paarl Gimnasium het die afgelope naweek by die Faurestraat-stadion vir die vierde agtereenvolgende jaar met hul aartsvyande, Hoër Jongenskool, afgereken tydens die jaarlikse interskole.
Die wedstryd was hard en taai en van aanskoulike rugby was daar min sprake met Gim wat uiteindelik met 10-0 geseëvier het.
Alhoewel die Gimmies se agttal veronderstel was om hul teenstanders die grond in te dryf, het die Boishaaiers goed hul man gestaan en ewe hard teruggeveg.
Dit is nou maar eenmaal so in rugby, drieë kan nie gedruk word sonder genoegsame balbesit nie en Boishaai het ’n groot tekort hieraan gehad.
Hulle moes die grootste deel van die wedstryd verdedig en die enkele geleenthede wat hulle wel geskep het, is deur hul eie foute en goeie verdediging aan die Gimmies se kant, in die wiele gery.
HJS was verder baie ongelukkig met die “taktiese” skopwerk van losskakel Matthew Calitz wat by drie geleenthede die doodlyn gehaal het in plaas van die kantlyn.
Dit het die gashere terug op die agtervoet geplaas met Gimnasium wat elke geleentheid probeer uitbuit het.
Een van die uitblinkers van die wedstryd was die opwindende en talentvolle binnesenter van Gimnasium, Johann Sadie, wat ook die enigste drie van hierdie kragmeting gedruk het.
Sadie is vinnig van die merkie af, weet hoe ’n gaping lyk en hoe om dit tot voordeel van sy span te benut en is rotsvas op verdediging. Hy het by tye sy teenstanders laat bont staan met sy bedrieglike systap en spoed.
Die Gimmies se losskakel Jurgen Visser het Sadie se drie verdoel en ook met een strafskop geslaag.
More
News
|