Interdik teen Raad
2007-08-08
FRANSCHHOEK raadslid Gordon Pheiffer (ANC) het ’n interdik teen die Stellenbosse Stadsraad gekry wat hulle verbied om klagtes van bedrog teen hom te bespreek. Die saak was op die Raad se agenda vir Dinsdag verlede week.
Volgens Pheiffer is die klagtes onderhewig aan ’n polisie-ondersoek en weier hy om deur die Raad “se boendoehof” verhoor te word.
Hy is nog nie aangekla nie, en die forensiese ondersoek is nog nie voltooi nie.
Daar is vroeër vanjaar beslag gelê op 'n rekenaar by Pheiffer se kantoor in die gemeenskapsaal nadat 'n bouer wat die gemeenskapsaal geverf het, beweer het dat Pheiffer van hom die bedrag van R21 000 kontant ontvang het weens 'n "oorbetaling" deur die Munisipaliteit vir die werk.
Dit is toevallig presies dieselfde bedrag wat geruime tyd deur die bouer, sy swaer Paul Williams, aan hom verskuldig was in 'n private transaksie vir die koop van 'n motor.
Die bouer ontken dat hy self die dokumente ingedien het vir die kwotasie van R31 000. Hy het slegs R10 000 ontvang vir sy verfwerk.
Verdere bewerings dat Pheiffer ’n huis by La Motte aan ’n vriend, Eddie Cloete, toegeken het, het ook sedertdien bekend geword.
’n Prokureur, Johan du Plessis, het klagtes van korrupsie teen Pheiffer ondersoek en ’n verslag aan die Raad voorgelê op 20 Julie, wat verlede week bespreek sou word.
Hy beveel aan dat Pheiffer deur die Wes-Kaapse Minister van Plaaslike Regering uit die Raad verwyder moet word weens oortreding van die gedragskode vir raadslede.
Volgens die Speaker, Andricus van der Westhuizen (DA), is die Raad vasbeslote om korrupsie uit te roei deur die hele stelsel van tenders, bestellings en subkontraktering te ondersoek.
Hy het vir Pheiffer tot Vrydag gegee om te reageer op die finale verslag.
* Stellenbosch town councillor Gordon Pheiffer obtained a court interdict to prevent the Stellenbosch municipal council from discussing allegations of fraud and corruption against him. Police are investigating allegations but he has not been charged.
More
News
|