Dief vinnig vasgevat
2007-08-08
NOG ’n vermeende dief het die afgelope week sy moses teëgekom in Noorder-Paarl.
’n Op-en-wakker lid van die Noorder-Paarl Buurtwag, Brandon Barends (22), was Sondagaand op patrollie in die Paarlse Hoofstraat, naby Optenhorststraat, toe ’n lid van die publiek vir hom in kennis gestel het dat daar so pas by ’n voertuig in Koningstraat ingebreek is. Die voertuig se venster is gebreek en die voorkant van die radio is gesteel.
’n Volle beskrywing van die verdagte is aan Barends oorgedra en toe hy in Boschstraat loop op soek na hom, het hy ’n man sien wegkruip agter ’n bos.
“Die man het gedink dat ek nie vir hom sien nie, maar ek het onverhoeds gegryp.
“Ek het hom beveel om op te staan en hy het ooreengestem met die beskrywing van die verdagte.
“Toe ek hom vra waar hy vandaan kom, vertel hy dat hy van Suider-Paarl af hiernatoe gestap het.
“Ek het hom deursoek en op die voorkant van die radio afgekom wat binne sy baadjie versteek was.”
Barends het die verdagte geneem na die Seven Days Superette waar hy op sy werkgewer, Robert Larke, gewag het.
Die verdagte het toe sy kans gesien en homself losgeruk en weer in die rigting van Boschstraat gehardloop.
Maar hy het Barends onderskat en op die hoek van Prins- en Boschstraat is hy platgedraf en dié keer het Barends seker gemaak dat hy nie los kom nie.
“Die misdadigers moet Noorder-Paarl nou uitlos, want ons gaan hulle net vasvat.”
'n Jong man word in verband met die voorval ondervra.
* Another thief was caught red-handed in Paarl North by a wide awake security guard..
More
News
|