Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Cultivaria: vermaak uit boonste rakke kom Paarl toe

Cultivaria: vermaak uit boonste rakke kom Paarl toe
 
2007-08-08


SUID-AFRIKA se voorste kunstenaars sal van 21 tot 24 September in die Paarl in aksie wees tydens Cultivaria, ’n fees met finesse.

Meer as 100 produksies gaan tydens die vier-dag kultuurfees by elf verskillende lokale op die planke gebring word en die Moirs-saal (VGK Huguenot se Strauss-saal in Drakensteinweg) spog met van die fees se top produksies.

Dit is die eerste keer dat produksies tydens die Cultivariafees in hierdie saal gehou word.

Die MTV-bekroonde Suid-Afrikaanse popgroep Freshlyground sal die naweek se vertonings afskop met hulle unieke Afro-fusion klank op Vrydag 21 September om 20:30 by die Moirs-saal.

Die groep het internasionaal opslae gemaak met hulle vars vermenging van inheemse klanke uit die Karoo, Mosambiek, Zimbabwe en die Oos-Kaap.

Hulle massiewe treffer Doo Bee Doo sal gehore op hulle voete kry vir ’n musiekfees van formaat.

Die Saterdag om 14:00 is die Moirs-saal ook die tuiste vir ’n lewendige opname van RSG se Kapityt met aanbieder Fritz Klaaste.

Die gehoor kry die unieke geleentheid om te kan deel in die strelende klanke van langarm- en Kaapse popmusiek saam met drie uitmuntende plaaslike groepe, Ronnie Appollis, Johnny Apollis en die Nerina Brass Band en Fire Ball. Die opname word later die aand op RSG uitgesaai.

Jazz legende Vusi Mahlasela, maak ’n seldsame verskyning op die Moirs-saal se verhoog Saterdagaand 22 September om 20:00.

Aanhangers van hierdie internasionaal bekroonde kunstenaar sal moet spring om kaartjies te kry vir sy enigste optrede tydens Cultivaria.

Vusi sal uittreksels van sy ongelooflike nuwe album Naledi! Ya Tsela speel.

Liefhebbers van klassieke musiek moenie die onoortreflike Handel se Messias op Sondag 23 September om 12:00 misloop nie.

Die Universiteit van Stellenbosch se simfonie-orkes is onder leiding van Corvin Matei en die kenmerkende koorwerke in Handel se unieke duet-koorvorm sal deur die New Apostolic Choir uitgevoer word.

Op Sondag 23 September, om 16:00, sal die opwindende klanke van die talentvolle kitaarduo CH2 saam met die Soweto String Quartet die gehoor in die Moirs-saal meesleur met hul unieke kombinasie van moderne kitaarmusiek, witwarm Spaanse flamenco ritmes en die polsende Afrika-klanke.

Die grand finale van die fees vind Maandag 24 September om 16:30 ook in die Moirs-saal plaas.

Die musikale extravaganza Paarl Pops word aangebied deur die Drakenstein Munisipaliteit en sluit die fees op ’n hoë noot af.

Hierdie veelsydige produksie is spesifiek vir Cultivaria saamgestel en kombineer die energieke stemme van Brandon October, Jennifer Jones, die Bala Brothers en Kevin Leo in ’n musiekreis van nuwe en ou treffers.

Die Universiteit van Stellenbosch se simfonie-orkes sal sorg vir begeleiding tydens liedere soos A Whole New World, Hemel op Tafelberg, die Carmen Ouverture, Fever, Spirit of a Great Heart en Barcelona.

Kaartjies vanaf R20 per vertoning is nou beskikbaar by die VGK Huguenot. Hierdie spesiale prys vorm deel van Cultivaria se gemeenskapsuitreik.

Besprekings kan gedoen word op die feeswebwerf www.cultivaria.com of telefonies by 021-872-9754.



More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za