Cultivaria fees met finesse
2007-08-16
HIERDIE jaar spog die Cultivariafees met meer as 100 produksies wat in elf verskillende lokale aangebied sal word vanaf 21 tot 24 September.
Van Suid-Afrika se top verhoogkunstenaars, komediante en musikale talent sal in aksie te siene wees.
Veeltalige solo-vertonings, komedies, kabarets en toneelstukke sal gehore vermaak met heimwee, humor, fantastiese musiek en vlymskerp sosiale kommentaar.
* Moenie een van Suid-Afrika se voorste liedjieskrywers, Emile Minnie, se musiekteater Dagbreek misloop nie. Hy sal optree by die Gimnasium Hoërskool se ouditorium op 22 September om 18:00 en 24 September om 12:30.
* Die bekroonde aktrise en TV-persoonlikheid, Lizz Meiring, se splinternuwe eenvroustuk, Bizzie Lizzie, is terselfdertyd skreeusnaaks en hartroerend. Sy het slegs een vertoning by die La Rochelle Hoërskool op 22 September om 18:30.
* Willie Strauss se Die Duiwel dra Crocs word beskryf as ’n kabasert, iets tussen ’n kabaret en ’n konsert, en sal beslis gehore se lagspiere oefen. Hierdie vertoning vind plaas in die Gimnasium Hoërskool se ouditorium op 21 September om 21:00 en 22 September om 15:30.
* In Rian van Heerden se geselsproduksie Dosis Waarheid is daar beslis geen heilige koeie nie. Hy rig die soeklig op aktuele sake en alledaagse verskynsels wat Suid-Afrikaners oor die algemeen as vanselfsprekend aanvaar. Hierdie produksie is te sien in die Ou Meul-teater op 21 September om 21:00, 22 September om 20:30 en 23 September om 20:00.
* Die toneelstuk Bonhoeffer is ’n treffende huldiging van die Duitse teoloog Dietrich Bonhoeffer, wat tronk toe gestuur is en tereggestel is vir sy opponering van Hitler. Hierdie vertoning met Peter Krummeck is te sien by die Gimnasium Hoërskool ouditorium op 24 September om 09:30.
* Krummeck het ook ’n kontemporêre drama “iVirgin Boy” geskryf en geregisseer. Dit is gebaseer op die samesmelting van drie stories. Die drama stel die werklikhede van mites, onkunde en bevooroordeling rakende Miv/Vigs in ’n Suid-Afrikaanse konteks bloot. Hierdie drama met Krummeck, Denise Newman, Chad Twynam, Martin Kintu en Aldridge Olivier is te sien by die Gimnasium Hoërskool ouditorium op 21 September om 18:00 en 22 September om 09:00.
* Matt Stern deel sy passie vir rock en blues legende Elvis Presley met die gehoor in sy musikale huldiging “Hound Dog”. Geniet die ruk en rol saam met Mat by die La Rochelle Hoërskool op 21 September om 20:00 en 23 September om 19:30.
* Die musiek van Louise Carver is nog altyd oor melodie, harmonie en lirieke. Sy tree op by die La Rochelle Laerskool op 23 September at 20:45 en 24 September at 10:00.
Bespekings kan slegs gedoen word op die Cultivaria webwer by www.cultivaria.com of skakel 021-872-9754.
SPESIALE afslagkaartjies vir die Cultivaria-feesproduksies in die Strauss-saal is tans daar beskikbaar as deel van ‘n gemeenskapsuitreik.
Drie van die elf produksies is vir kinders en is heeltemal gratis. Die res van die produksies (8) se kaartjies is heelwat goedkoper by dié saal te kry as wat dit by die feeskantoor of op die internet beskikbaar is, as deel van Cultivaria se gemeenskapsuitreik.
* Vrydagaand 21 September om 20:30 is die bekende sanggroep Freshlyground daar te sien teen R30.
* Saterdag 22 September word heeldag gewy aan gratis kinderproduksies. Om 09:00 is Jannie de Bruin die buikspreker aan die beurt, om 09:45 is dit Kamielieperd red die diere, 10:30 Dennis die Nar en 11:00 Liewe Heksie (almal gratis).
* Die middag is daar verskeie orkeste wat van 14:00 optree in Kapityt (met Fire Ball, Ronnie Appollis, Johnny Appollis en Nerina Brass Band) saam met RSG se Fritz Klaase. Toegang is slegs R20.
* Die Saterdagaand om 20:00 is die groot musiekster Vusi Mahlasela in dieselfde saal te sien teen slegs R20.
* Sondag 23 September om 12:00 word die klassieke koorstuk Die Messias van Händel opgevoer deur die Nuwe Apostoliese Koor begelei deur die Stellenbosch Simfonie-orkes (slegs R20).
* Die middag om 16:00 tree die trompetduo CH2 & die bekende Soweto String Quartet op (R30).
* Maandag 24 September om 16:30 sluit die fees in hierdie saal af met die groot produksie Paarl Pops (R30). Die sterre is Brandon October, Jennifer Jones, die Bala Broers en Kevin Leo.
More
News
|