Raadslid uitgeskop
2007-08-16
DIE Franschhoek raadslid Gordon Pheiffer (ANC) wat onlangs ’n interdik teen die Stellenbosse Stadsraad gekry het wat hulle verbied om klagtes van bedrog teen hom te bespreek, is Dinsdag effektief uit die Raad geskop.
Pheiffer het in die hof aangevoer dat die klagtes is onderhewig aan ’n polisie-ondersoek en geweier om deur die Raad “se boendoehof” verhoor te word.
Nadat die interdik verstryk het, het die Stellenbosse stadsraad hul korrupsieklagtes Dinsdag teen Pheiffer bespreek, en besluit dat hy amptelik uit sy pos onthef moet word deur die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering.
Pheiffer is vroeër vanjaar geskors en ‘n klag is by die polisie gelê, maar die forensiese ondersoek van sy rekenaar, waarop beslag gelê is, is nog nie voltooi nie.
Die beslaglegging het plaasgevind nadat ‘n bouer wat die gemeenskapsaal geverf het, beweer het dat Pheiffer van hom die bedrag van R21 000 kontant ontvang het weens ‘n “oorbetaling” deur die Munisipaliteit vir die werk.
Dit is toevallig presies dieselfde bedrag wat geruime tyd deur die bouer, sy swaer Paul Williams, aan hom verskuldig was in ‘n private transaksie vir die koop van ‘n motor.
Die bouer ontken dat hy self die dokumente ingedien het vir die kwotasie van R31 000. Hy het slegs R10 000 ontvang vir sy verfwerk.
Verdere bewerings dat Pheiffer ’n huis by La Motte aan ’n vriend, Eddie Cloete, toegeken het, het ook sedertdien bekend geword.
’n Prokureur, Johan du Plessis, het klagtes van korrupsie teen Pheiffer ondersoek en Pheiffer se ontslag aanbeveel weens oortreding van die gedragskode vir raadslede.
Die Raad het die besluit met 18 stemme teen 14 goedgekeur nadat ‘n teenmosie van die ANC verslaan is.
Volgens die Speaker, Andricus van der Westhuizen (DA), is die Raad vasbeslote om korrupsie uit te roei deur die hele stelsel van tenders, bestellings en subkontraktering te ondersoek.
* The Stellenbosch town council has decided to recommend that ANC councillor for Franschhoek, Gordon Pheiffer, be removed from office by the Western Cape minister of local government for contravening the code of conduct for councillors.
More
News
|