Brand tref hard
2007-08-16
Lise Beyers
’n OUD-GIMMIE van die Paarl, Izak Potgieter (21), lê tans in ’n ernstige toestand, moontlik verlam, in die Stellenbosch MediClinic, nadat hy vroeg Donderdagoggend uit sy brandende koshuiskamer na veiligheid gespring het.
Izak en sy kamermaat, Servaas Fick, was van die talle studente wat verlede Donderdagoggend vreesbevange in die brandende Eendrag-koshuis op Stellenbosch wakker geword het.
Potgieter se pa, Jakkie, het gesê dat toe Izak en Servaas wakker skrik, was hul plafon reeds aan die brand.
“Izak wou die deur oopmaak, maar die handvatsel was te warm. Hy het ’n handdoek gegryp om dit oop te maak, maar die gang was reeds deur vlamme verswelg.
“Hulle het by die venster uitgeklim en aan die rand gehang in die hoop dat die brandweer vangnette onder hulle sou span.
“Die rame het te warm geraak en hulle moes spring.”
Izak het op ’n dakkie beland en daarna grond toe geval. In dié proses het hy sy rug en nek beseer. Hy het ook eerstegraadse brandwonde opgedoen.
Hy is die afgelope naweek geopereer en daar sal eers binne die volgende week vasgestel word of die verlamming wat hy opgedoen het, permanent is.
“Dit was ’n lang, ingewikkelde operasie en tans verkeer Izak onder hewige verdowing, maar sy toestand is bevredigend.”
Volgens gerugte het die brand ontstaan nadat ’n groep studente Woensdagaand op ’n stoep op die derde vloer van die gebou gebraai het.
Hulle het na bewering waarskuwings verontagsaam dat hulle nie daar mag braai nie en het later vermoedelik die vuur onbeman gelaat. Izak is maar een van talle Paarliete en Wellingtonners wat deur die brand by Eendrag getref is.
Carel van Wyk, ’n elektroniese ingenieurswese student in sy derde jaar, en sy broer Neels (B.Sc eerstejaar), was albei in die koshuis toe die chaos losbars.
Carel se kamer is geleë op die noodlottige derde vloer wat heeltemal deur die brand verwoes is.
“Toe die brandalarm om 06:30 begin skreeu, het ons almal gedink dat dit inwoners is wat die gek skeer.
“Maar ek het glas hoor breek en toe ek my kamerdeur oopmaak, kon ek nie deur die rook sien nie. Dit is toé dat ek besef het dat daar groot fout is.”
Alhoewel Carel nou ’n T-hemp dra met die woorde, “3rd floor survivor” daarop, kom ’n mens dadelik agter dat hy terugdink aan dié skrikwekkende oggend met groot erns.
“Ek het net my selfoon, beursie en Eendragbaadjie gegryp en gevlug. “Toe ek op die grasperk voor die koshuis kom, kon ek sien hoe die kamers op die derde verdieping van binne gloei.
“Kort voor lank was die dak en derde verdieping in vlamme gehul. Oral het my koshuismaats, steeds in hul slaapklere geklee, met ongeloof na die toneel gestaar.
“Ek wou nog teruggaan om my skootrekenaar te gaan haal, maar ek het besef dat dit te laat is.
“Een van my vriende het sy rekenaar by die koshuisvenster uitgegooi, om sodoende sy hardeskyf te kon herwin.”
Neels, wat op die eerste vloer woon, het niks in die brand verloor nie, maar wel rook- en waterskade ondervind.
Altesame 93 studente woon op die derde verdieping en die meeste van hulle het al hul besittings verloor. Vir baie is die ergste hiervan die verlies van hul studie-notas en inligting wat veral op rekenaars gestoor is.
“Ek studeer hoofsaaklik van my notas af en dit is nou onvervangbaar. Al wat ek in my kamer kon vind na die brand was my koffiebeker, waaraan ek baie sentimentele waarde heg.”
Die Universiteit van Stellenbosch het aan elke student R750 gegee om noodsaaklikhede aan te skaf en daar is reeds vir baie van hulle alternatiewe verblyf gereël. Hul studie-gidse sal ook deur die universiteit vervang word.
Om sake nog erger te maak, het talle van die slagoffers hul spoguitrustings verloor vir hul huis-dans wat Saterdagaand in Stellenbosch se stadsaal plaasgevind het. Hulle moes dus skarrel om nuwe klere vir dié geleentheid te kry.
Hier het die manne vir die eerste keer na die brand byeengekom en ’n hegte gees van broederskap het geheers.
’n Ander bekende Paarliet wat ook getref is, is Kobus Ehlers, oud-hoofseun van HJS en tans studenteraadvoorsitter van die universiteit.
Kobus kon egter nog nie sy eie lewe bymekaar begin skraap nie, want hy het reeds kort na die brand planne begin maak om sy mede-studente te help.
* An old boy of Paarl Gymnasium sustained serious injuries when he jumped from the third floor at Eendrag hostel in Stellenbosch, to escape a fire which swept through the building.
More
News
|