Seun sterf op skoolbus
2007-08-16
Lise Beyers
WOEDE en ongeloof heers tans by Nieuwedrift Primêr, noord van die Paarl, nadat ’n leerder van dié skool met ’n mes doodgesteek is op ’n skoolbus.
Samuel Mars (14) het die afgelope week by vriende op die plaas Langvlei naby Perdeberg tuisgegaan.
Maandagoggend was hy tussen ’n groep leerders wat per bus na Nieu-wedrift geneem sou word. Die bus het egter naby Hoër Landbouskool Boland onklaar geraak en die kinders is afgelaai.
Die kinders het teruggedraai in die rigting van Perdeberg en het hul pad na Kersboslaagte Primêr gevind.
Hier het hulle op dié skool se bus ingeklim om ’n geleentheid te kry terug na hul huise, wat meestal op plase in die Perdeberg-gebied is.
Die skoolhoof van Kersboslaagte, David Abrahams, het vertel dat hy gesien het hoe trek die bus voor die skool weg, net om ongeveer 20 meter verder tot stilstand te kom.
“Die bestuurder van die bus het geskreeu dat daar ’n messtekery op die bus is en ek het dadelik gaan ondersoek instel.
“Binne die bus het ’n bebloede seun gelê wat ek nie as een van my leerders herken het nie.
“Hy het dringend mediese sorg nodig gehad en ons het hom op ’n matras agter op die buskontrakteur se bakkie gelaai en hy is na Nuwedrift-kliniek geneem.”
Die seun was egter met sy aankoms by die kliniek reeds dood aan die meswond in sy bors.
Abrahams het die polisie na Kersboslaagte ontbied en ’n veertienjarige leerder van dié skool is in hegtenis geneem.
Volgens ’n ooggetuie het Mars die afgelope naweek op Langvlei baklei met dieselfde veertienjarige seun met wie hy op die skoolbus ’n onderonsie gehad het.
Mars se ouers, Naomi en Jacob Booysen van Agter-Paarl, is steeds stomgeslaan oor die gebeurtenis.
“Ons verwag dat hy nog enige oomblik van Langvlei sal terugkeer huis toe.
“Hy was so ’n stil seun wat lief was vir rugby, maar hy was ook baie betrokke by die kerk en het in hul orkes tromme gespeel.”
Die skoolhoof van Nieuwedrift, Chris Bam, het gesê dat die hele skool die voorval betreur.
“Die bus wat die kinders Maandagoggend vervoer het, wat aan Moerat Busdienste behoort, het weereens onklaar geraak en die kinders is langs die pad afgelaai.
“As dit nie hiervoor was nie, kon Samuel nog geleef het.”
Hy word benewens sy ouers oorleef deur twee jonger sussies.
* A fourteen-year-old was stabbed to death on a school bus.
More
News
|