Liefdesdriehoek voor moord
2007-08-16
Lise Beyers
‘n LIEFDESDRIEHOEK het waarskynlik gelei tot die mesdood van ‘n vrou van Wellington en ‘n ure-lange stryd om haar man, die vermeende moordenaar, op Bainskloof te red.
Die treurspel het Dinsdagmiddag afgespeel toe die balju van Wellington, Johan Strauss (49), sy vrou, Minette (38), ingewag het toe sy haar kind by die Durbanville Laerskool gaan haal het.
Hier is sy verskeie kere met 'n mes gesteek en sy het op die toneel gesterf.
Terwyl die polisie op die moordenaar se spoor was, het Strauss 'n vriend uit Malmesbury gebel en gesê dat hy gaan selfmoord pleeg.
Hy was op pad Bainskloof toe en die vriend het hom agternagesit. Kort voor die kruin van die berg het Strauss se BMW by ‘n krans afgestort en sowat 20m onder die pad te lande gekom.
Studente wat ‘n ent van die toneel by ‘n uitkyk-punt gestaan het, het verstom toegekyk.
“Ons het gesien hoe trek die motor deur die lug en tuimel berg-af,” het een van hulle vertel.
“Ons het nader gehardloop. ‘n Man wat toe net daar stilgehou het, het vir ons gevra om die polisie te bel."
Dit was die Wellingtonse sakeman Ian Cloete, wat sy selfoonbattery pap gepraat het terwyl hy sy vlugtende vriend onderskraag het.
“Die bestuurder van die motor het uit die motor geklim en verder die berg afgestrompel,” het die studente gesê.
“Dit het gelyk asof hy homself met ‘n lang mes sny.”
Polisie- en reddingsbeamptes was vinnig op die toneel.
Strauss het 150 meter by die krans af soos ‘n verlore seun rondgedrentel terwyl hy met homself gepraat het.
Die polisie, sowel as Cloete, het stadig nader aan hom beweeg en vir hom ‘n selfoon gelos sodat hy met die onderhandelaars kon praat.
Na meer as drie uur van intensiewe onderhandelinge het hy ingestem om opgehelp te word.
Toe hy bo gekom het, was hy erg emosioneel en wou dadelik weet of sy vrou nog leef.
‘n Dokter was byderhand om na sy wonde om te sien en hy is na die Wellingtonse polisiestasie geneem, waarna hy oorhandig is aan die Durbanville polisie.
‘n Bebloede slagmes is later binne die voertuig gevind.
Die geskokte gemeenskap van Wellington het gister gesteier met die nuus van die voorval.
Volgens vriende was Strauss ‘n gesiene man, ‘n diaken by Wellington Noord NG-gemeente.
“Na ‘n mislukte eerste huwelik het Minette en haar vier kinders finansieel gesukkel.
“Johan het vir haar lief geraak en vir haar en haar gesin gesorg, so goed soos wat hy kon. Iets moes erg skeef geloop het.”
Adjunk-balju Deon Maree is in Strauss se kantoor aangestel.
Na bewering het Minette onlangs met haar kinders Durbanville toe getrek waar sy by ‘n kollega van Strauss gaan woon het.
* The sheriff of the Wellington court drove his car over the edge of Bain’s Kloof Pass, hours after his wife had been stabbed to death.
More
News
|