Satan-moordsaak begin
2007-08-23
BYNA twee jaar na die gru-moord van ’n geliefde kerkman van Paarl-Oos, het die saak begin loop by die Hooggeregshof in Kaapstad.
Die Keniaan Ewans Marani staan saam met Selwyn Adonis, Anil Farao en Edwill Gerber tereg op die aanklag van moord op Charles Jacobs op 31 Oktober 2005.
Jacobs is wreedaardig gemartel voordat hy met ’n tuinvurk doodgesteek is in die Mormoonse Kerk in Klein Drakensteinweg, waar hy as opsigter gewerk het.
Sy bebloede liggaam is in ’n kruisigingsposisie gelaat en die woorde ‘SATUN’ is met Charles se bloed op die vloer geskryf.
Vandeesweek het Charles se bejaarde ma, Christina Jacobs (84), getuig hoe Marani die dag van die moord onophoudelik by hul huis aangeklop het.
Later die aand het sy selfs vir Marani ingenooi en vir hom ’n bord kos gegee.
Marani was ’n sendeling by die Mormoonse Kerk en het dus die familie goed geken.
’n Beëdigde verklaring is ook aan die hof voorgelees van ’n gevangene aan wie Adonis gebieg het.
Volgens dié verklaring erken Adonis dat Marani die moord gepleeg het en dat hy gehelp het om vir Jacobs vas te maak.
Hierdie verklaring het ook grafiese getuienis gelewer oor hoe Jacobs eers met ’n skêr en toe met ’n tuisgemaakte wapen gesteek is. Adonis ontken egter skuld aan moord.
Tydens Maandag se hofverrigting het die ander drie verdagtes ’n eetstaking uitgevoer om hul misnoeë met die kos in die selle te toon.
* Ewans Marani is being tried for the murder of churchman Charles Jacobs at the Supreme Court in Cape Town.
More
News
|