Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Wynwa val vas

Wynwa val vas
 
2007-08-23


TWEE bekende stoker-broers van Noorder-Paarl is in hegtenis geneem toe daar Vrydag douvoordag miljoene rande se wyn gekonfiskeer is tydens ’n klopjag op hul plaas.

Siem Basson (39) en sy broer Stefan (36) van Nuwedrif-plaas het gister vlugtig in die Paarl Landdroshof verskyn.

Hulle is dieselfde middag op borgtog van R1 000 elk vrygelaat.

Aanklagte van onwettige drankhandel, oortredings van die Wet op Drankprodukte asook aanklagte onder die Wet op Doeane en Aksyns, word teen hulle ondersoek.

Tydens die optrede op Nuwedrif is daar beslag gelê op toerusting vir die bottelering van wyn - plastiekbottels en papsakke - asook groot hoeveelhede wyn en chemikalieë vir die vervaardiging van wyn.

Getuienis dat water uit die Bergrivier gepomp sou wees om by die wyn te voeg, word ondersoek.

Twee gewere asook 24 rondes ammunisie is gekonfiskeer.

Die Bassons van Nuwedrif is berug in die papsakbedryf en die skemerwêreld van onwettige drankhandel. Daar word beweer dat hulle drank aan sjebeens in die omgewing en wyer verkoop.

Ander Bassons van die Paarl distansieer hulle van dié broers se bedrywighede, is aan Paarl Post gesê.

In Augustus 2002 is SJ (Siem) Basson ook aangekla van handel in drank sonder ’n lisensie en op borgtog van R200 vrygelaat.

Daar is toe drie vlekvrye staal tenks van meer as 7000 liter ongefortifiseerde wyn op Nuwedrif-plaas ontdek. Dié wyn van Worcester is na bewering met water en suiker verdun en in papsakke en bottels verkoop.

Die tenks is deur amptenare van doeane en aksyns verseël en vir die duur van die hofsaak slegs in hul teenwoordigheid oopgemaak, wanneer Basson die kwaliteit van die inhoud moes nagaan.

Basson het in November 2003 skuld beken dat hy die Wet op Drankprodukte oortree het deur versoeters by wyn in kanne en papsakke te voeg waarmee hy handel gedryf het.

Basson is tot ’n boete van R1 200 of vier maande gevangenisstraf, opgeskort vir vyf jaar, gevonnis.

Sy jonger broer Stefan en sy gesin is skaars ’n maand later in hul woning op die Nuwedrif-plaas deur ge-wapende mans aangeval.

Stefan het later vertel hoe hy, met ’n koeëlwond in die been, die 400m na sy broer sy opstal gehardloop het om hulp te ontbied.
Sy gesteelde bakkie is kort daarna gevind, vasgeval op ’n spoorlyn tussen die Bergrivier en Mbekweni.

Ná die voorval is die Nuwedrifplaas en woning met veiligheidstralies en geëlektrifiseerde heinings en hekke omring.

* Two farmers, brothers from Paarl North, have been arrested on suspicion of illegally bottling and selling millions of rands worth of wine to shebeens.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za