Atlete slyp vir oulaas in Paarl
2005-06-02
ATLETIEKLIEFHEBBERS kan op Jeugdag regskuif om die vorm te peil van die Wes-Kaapse jeugatlete wanneer ’n laaste voorbereidingsbyeenkoms op Daljosafat Stadion gehou word.
Die Wes-Kaapse atletiekspan wat uit 65 atlete bestaan, is in voorbereiding vir die Jeugspele wat in September in Durban plaasvind.
Die agt Wes-Kaapse atlete in voorbereiding vir vanjaar se Wêreld Jeugkampioenskappe sal ook in aksie wees as laaste voorbereiding voordat die SA Jeugatletiekspan twee weke later vertrek na Marrakesh, Marokko.
Omdat die atletiekbyeenkoms slegs voorsiening gaan maak vir items in die jeugkategorie (o.17) sal die program slegs twee uur lank wees. Die byeenkoms begin om 11:00 en sal om 13:00 klaar wees.
Atlete in die Boland wat belang stel om ook aan die byeenkoms deel te neem kan in verbinding tree met die naaste atletiekklub of navrae doen by hul skool.
Atlete sal nog tot 30 minute voor die aanvang van die byeenkoms kan inskryf.
Die Wes-Kaapse span is tans in top vorm en die byeenkoms beloof om aanskoulike atletiek op te lewer.
Verskeie ander aktiwiteite sal ook tydens die atletiekbyeenkoms aangebied word, met rugby- en netbalwedstryde wat op die velde en bane om die atletiekstadion sal plaasvind.
Dié wedstryde vorm deel van die Drakensteinse Jeugfees. Dié fees is deel van die landswye jeugdagvieringe.
More
News
|