Raaisel oor lyk in see
2007-08-23
DIE lyk van ’n man van Groenheuwel het verlede week naby Table View by die see uitgespoel.
Shaun Sauls (28) is vemoedelik eers verwurg en hierna is sy lyk in die see gegooi.
Die gebeure wat gelei het tot hierdie tragedie is steeds duister, maar nadat twee mans in hegtenis geneem is, en ’n vrou steeds ondervra word, het die raaisel stadig begin ontrafel.
Sauls en ’n vrou is na bewering deur twee mans genader nadat hulle Dinsdagnag ’n smokkelhuis in Groenheuwel verlaat het.
Hulle het vir Sauls oorweldig en saam met hom en die vrou in sy Toyota Corolla geklim en na Kaapstad gery.
Hier is blykbaar by talle kuierplekke aangegaan, maar later is Sauls in die kattebak van die voertuig toegesluit.
Nadat Sauls se lyk vroeg verlede Woensdagoggend uit die see gespoel het, het lede van die polisie onraad vermoed toe hulle sy voertuig op die strand gewaar het. Twee mans het om die motor gedwaal.
Nadat daar vasgestel is dat die voertuig aan Sauls behoort, is daar met sy vrou in verbinding getree.
Sy het haar kommer uitgespreek oor sy verdwyning. Hierdie onthulling het gelei tot die positiewe uitkenning van Sauls se lyk.
Paul Benans (29) en Jonathan Martin, van die Paarl is in hegtenis geneem in verband met die moord, en Marie Kermis word steeds ondervra.
Wat gelei het tot Sauls se moord is steeds onduidelik en die polisie hou vol dat die geheim lê by die vrou wat saam met hom was.
Geen wapens is tydens die beweerde kaping gebruik nie.
Sauls word oorleef deur sy vrou, Jacqueline, en ’n eenjarige dogtertjie, Erin.
Die roudiens is Saerdag om 09:00 vanuit die huis te Amaryllisstraat 11, en daarna by die Immanuel VGK.
* The body of a man from Groenheuwel washed out of the ocean near Table View under suspicious circumstances.
More
News
|