Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Dorp steier steeds na moord

Dorp steier steeds na moord
 
2007-08-23


WELLINGTON was die afgelope week in rep en roer oor die skokmoord van ’n balju se vrou, wat gevolg is deur die inhegtenisname van haar man nadat hy vermoedelik probeer selfmoord pleeg het.

Die mooi, fyngeboude Minnette Strauss (38) is voor ’n skool in Durbanville met ’n mes doodgesteek terwyl sy vir haar negejarige seun, Marius Jordaan, gewag het.

Sy is Dinsdag vanuit die NGK Wellington-Noord veras na ’n emosie-belaaide roudiens. Haar vier kinders het deurgaans strak voor hulle uitgestaar, maar is bygestaan deur Minnette se vriend, Deon Maree.

Haar getroude van (Strauss) is weggelaat op die begrafnisbrief.

Kort na Minnette se mesdood, het haar man van minder as twee jaar, Johan Strauss (49), na Bainskloof gevlug en van die bergpas afgery.

Die polisie was kort op sy hakke, maar hy het geweier dat hulle vir hom na bo bring.

Na ure se onderhandeling is hy in hegtenis geneem vir die moord op Minnette.

’n Snikkende Strauss het verlede Donderdagoggend in die Bellville-Landdroshof verskyn, nadat hy die vorige aand skielik vanuit die polisieselle na ’n private hospitaal vervoer is weens sy verswakkende mediese toestand.

Hy ly glo aan suikersiekte en hoë-bloeddruk.

Sy prokureur, Michelle du Plessis, het aangevoer dat hy chronies siek is, ’n gevaar vir homself is en dus 24 uur per dag gemonitor moet word.

Hy sal voortaan in die hospitaaleenheid van die Goodwood-gevangenis aangehou word.

Strauss sal weer op 27 Augustus in die hofverskyn vir ’n borgaansoek.

Intussen word daar wyd deur die gemeenskap van Wellington bespiegel oor wat gelei het tot dié tragedie.

Strauss was 'n diaken by die NGK Wellington-Noord en volgens diegene wat hom ken, is hy ’n "sagmoedige reus". ’n Vriend van hom het gesê dat hy die tipe persoon is wat enige tyd van die dag of nag vir iemand sal help.

Daar word gesê dat dit juis deur hierdie saggeaardheid was dat hy verlief geraak het op Minnette en vir haar en haar kinders ’n dak oor hul koppe gegee het toe hulle niks gehad het nie.

Talle het vertel dat Strauss enigiets vir Minnette en haar kinders sou doen.

Minnette het drie weke voor haar dood haar man verlaat en met haar kinders, Marius, Maryke (15), Marissa (16) en Melinda (19) by Deon Maree, adjunk-balju in Strauss se kantoor, gaan woon in Durbanville.

* The community of Wellington is still shocked after the murder of Minnette Strauss.



More News
  • Musikant sterf na perdry-tragedie
  • Land-grab chaos in Mbekweni
  • Hawelose-probleem in Paarl aangepak
  • Man in die knyp oor dwelms
  • Sparks fly at Working for Water
  • Delegation to tackle housing problems
  • Diewe takel Wellington besighede
  • Misdadigers sit lank
  •  
        [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za