Slegs 'n maand voor Cultivaria
2007-08-23
DIE Paarl is reeds in rep en roer met net meer as ’n maand voor die afskop van vanjaar se Cultivaria-fees.
Kaartjieverkope is reeds hoër as verlede jaar en sommige produksies verkoop soos soetkoek.
Beslis een van die hoogtepunte op die feeskalender is die splinternuwe vertoning van Tydloos II met Arina de Witt, Jannie Moolman, Rina Hugo en André Schwartz.
Tydloos II se openingsaand op Vrydag 21 September om 20:30, bied aan feesgangers die eksklusiewe geleentheid om die sangers te ontmoet tydens ’n sprankelende skemerkelkfunksie ná die vertoning in die stadsaal.
Slegs ’n beperkte hoeveelheid kaartjies vir die skemerkelk-konsert is beskikbaar, waar Egoli-sterre Brümilda van Rensburg en Eckard Rabe die aanbieders is.
Kaartjies vir die eenmalige geleentheid kos R250 en sluit uitsoeksitplekke in die voorste rye asook wyn en ’n vingerete in. Verlede jaar se produksie van Tydloos was die topverkoper tydens Cultivaria, so bespreek nou by www.cultivaria.com om teleurstelling te vermy.
Musikale regisseur Mathys Maree het eksklusief vir Cultivaria ’n treffende musikale extravaganza saamgestel wat tydlose treffers van bekende musiekblyspele en rolprente insluit.
Geniet die uitsonderlike kombinasie van hierdie fantastiese sangers in solos, duette en samesang tydens goue oues soos Santa Lucia en Unchained Melody.
* Daar is beslis voorsiening gemaak vir klassieke musiekliefhebbers hierdie jaar en 23 September behoort ’n spesiale dag te wees op die feeskalender.
Om 16:00 sal die internasionale pianiste Nina Schumann en Luis Magalhäes die totale werke vir twee klaviere deur Rachmaninoff uitvoer.
* Hierdie produksie word gevolg deur ’n buitengewone uitvoering van Händel se Dettingen Te Deum and Vivaldi se Gloria om 20:00. Louis van der Watt dirigeer die Stellenbosch Simfonie-orkes en die Canticum Novum choir.
* Die talentvolle en vindingryke kitaarduo CH2 word deesdae druk bespreek deur liefhebbers van kitaarmusiek. Hul vars, moderne aanslag verwek dié immergroen snaarinstrument tot nuwe lewe. Klassieke Westerse kitaar-musiek word gegeur met die drif van Spaanse flamenco, afgerond met ’n goeie dosis plaaslike Afrika-klanke en aangevuur deur die Soweto String Quartet op 22 September in die stadsaal om 16:00 en 23 September in die VGK kerksaal Huguenot (Strauss-saal) 16:00.
* In Messias word ons bewus van Händel as iemand wat met sy musiek ’n diepe insig in die Skrif toon op 23 September om 12:00 in die VGK-kerksaal Huguenot (Strauss-saal).
Die Messias van Händel se koorwerke staan sentraal in hierdie oratorium en Händel gebruik die sogenaamde duet-koorvorm. Daarby is musikale simbolisme, een van die mees merkwaardige kenmerke van Händel se koorstyl en in Messias gebruik hy dit byna speels.
* In Kollig op Callas bring die bekende sopraan Sabina Mossolow hulde aan operalegende Maria Callas wat 30 jaar gelede in Parys, Frankryk, oorlede is. Die vertoning is te sien op 22 September om 13:00, by HJS.
* In Sameloop wys niggies Laurinda Hofmeyr en Zanta Hofmeyr wat gebeur as twee uiteenlopende musiekstrome begin saamvloei. Laurinda se aangrypende toonsettings en Zanta se viool word ondersteun deur Schalk Joubert (baskitaar) en David Klassen (dromme).
Maak reg vir verrassende wendings deur heelwat stroomversnellings en dieper kuile op 23 September om 10:00 en 17:00 by La Rochelle Laerskool.
* Sean Bovim se ballet Tango Nights word afgespeel in ’n tango-kafee en ondersoek die lewe van ’n kafeesanger as sy verlief raak op ’n kelner.
Geniet die ritmes van die kunsvorme wat insluit musiek, dans, poësie en filosofie op 23 September om 17:00 by HJS.
Besprekings vir produksies kan gedoen word by www.cultivaria.com of 021-872-9754. Slegs kredietkaarte sal aanvaar word.
More
News
|