Laat jou kat speel
2007-08-23
AS jou kat deesdae minder spelerig is, meer slaap of nie langer op sy gunsteling-vensterbank spring nie, dink jy dalk hy raak maar net oud.
Maar kenners sê dit kan ’n teken van osteo-artritis wees. Onlangse navorsing het getoon dat hierdie chroniese, pynlike toestand baie meer algemeen is as wat aanvanklik vermoed is, met meer as 65% van katte ouer as 12 jaar en soveel as 25% van alle katte wat daaraan lei.
Dr Eithne Comerford, lektor in veeartsenykundige ortopedie aan die Universiteit van Liverpool in Engeland, was onlangs in Suid-Afrika om osteo-artritis in katte met plaaslike veeartse te bespreek.
Sy het verduidelik dat die toestand dikwels nie raakgesien word nie. Volgens haar is eienaars in ’n beter posisie om die probleem te identifiseer.
Sy het aanbeveel dat hulle video-opnames maak om vir die veearts te wys hoe die kat beweeg as hy ontspanne in sy tuisomgewing is.
Die kat sal minder gewillig of in staat wees om by hoë plekke op en af te spring, sal meer slaap, minder interaksie toon, kan probleme hê om ’n sandbak met hoë rande te gebruik en homself minder versorg.
Die kat sal ook nie daarvan hou om gehanteer te word nie omdat aanraking pynlik is.
Katte steek pyn uitstekend weg.
Hoewel daar geen genesing vir osteo-artritis in katte is nie, is daar onlangs vooruitgang gemaak met die beheer van die siekte deur dieet.
Die nuwe Hill’s Prescription Diet, Feline j/d, is klinies bewys om beweeglikheid in katte in so min as 28 dae te verbeter.
Dit bevat die vetsuur wat die geen afskakel wat die vrystelling van die ensiem wat kraakbeen vernietig, beheer.
Kombinering van dieet met pynverligting, aanpassing van die tuisomgewing, matige oefening en die beheer van liggaamsgewig, word aanbeveel.
Sy stel voor dat kos- en sandbakke met lae rande binne maklike bereik geplaas word sodat die kat nie teen iets hoef op te spring of teen trappe hoef op te klim nie.
More
News
|