Paulus wen met 14-man span
2007-08-23
Lise Beyers
’n ROOIKAART vroeg in Saterdag se derby kon Paulus Joubert nie stuit om ’n pragoorwinning te behaal in die stryd teen Noorder-Paarl Sekondêr nie.
Tydens die eerste helfte van die kragmeting het die spel gedurig wipplank gery van een kant van die veld af na die ander - so gelykop was die spel.
Noorder-Paarl is met ’n geelkaart gestraf vir ’n gevaarlike hoogvat, waarna Paulus Joubert dié geleentheid gebruik het om hul eerste drie te gaan druk.
Ashley Adams van Paulus het ’n rooikaart ontvang toe hy dieselfde toertjie uitgehaal het wat vir Noorder-Paarl ’n geelkaart besorg het. Van hier af het dit gelyk asof ’n vuur onder die mans in blou en wit aangesteek word en nog ’n drie word voor halftyd gedruk.
Met ’n halftydtelling van 15-3, was Paulus sterk op pad om die wa deur die drif te trek.
Na halftyd het Noorder-Paarl verwoed teruggeveg en vinnig ’n drie onder Paulus se pale gaan druk.
Die eindtelling van 20-10 het egter aangedui dat die veel sterker veertienman-span van Paulus Joubert met die louere weggeloop het om hierdie jaar se derby te wen.
More
News
|