Dertien pronk in Cravenweek-spanne
2005-06-02
DIE syfer 13 word miskien ongelukkig geag deur sommiges, maar vir die 13 plaaslike rugbyspelers wat deel uitmaak van vanjaar se Boland en WP Cravenweek-spanne is dit dalk die begin van groot dinge.
In die Boland-span van 22 spog New Orleans Sekondęr en Paulus Joubert elkeen met twee spelers.
Grant Paulse en Glenton Cupido van NO is as skrumskakel en plaasvervanger-vleuel in die span ingesluit.
Dit is Paulse se tweede verskyning in ’n Cravenweek. Die Paarliet het verlede jaar by Hoërskool Hentie Cilliers in Welkom skoolgegaan. Hy is daar vir die Griffons se o.18 Cravenweek-span verkies.
Paulus Joubert se Bradwell Swartz (losskakel) het verlede jaar ook vir die Boland uitgedraf en was deel van die SA Rugby se groen groep.
Alrich Armenville is die ander leerder van Paulus wat vanjaar in die span opgeneem is.
Die ander plaaslike speler in die Boland-span is Gershwin September van Charleston Hill.
Hoër Jongenskool Paarl en Paarl Gimnasium het elkeen drie spelers in die WP Cravenweek-span.
Die samespel onder die voorry behoort baie goed te wees aangesien albei die stutte, Jean Rossouw en Bennie Botes, van Gimnasium afkomstig is.
Die losskakel, André Smith, het al vanjaar menige wedstryd vir sy skool gewen en sy spel vir die WP in die belangrike posisie sal met belangstelling dopgehou word.
Conrad Hoffman, De Kock Steenkamp en Henrico Isaacs verteenwoordig vanjaar vir Boishaai in die WP span.
Hoër Landbouskool Boland se Gert Kroukamp en Morné Hanekom is ook deel van die WP.
More
News
|