Van KN tot in Kansas
2007-08-23
Malané Bosman
VIR Jermaine Kermis was die sprong van Klein Nederburg Sekondęr na Kansas nie so hoog nie. Sy was immers een van Suid-Afrika se top jong basketbalspelers toe sy oorgenooi is na Amerika. Jermaine (20) was van kleins af sportmal, vertel haar trotse ma, Hester, in hul huis in Groenheuwel.
Sy was nog op Dalweide Primęr toe sy begin basketbal speel het. By Klein Nederburg het die lang, lenige meisie nie net tot die SA o.20 basketbalspan gevorder nie, maar ook aan atletiek deelgeneem en vir Boland krieket en sokker gespeel.
Sy was in die middel van haar matriekjaar toe die geleentheid gekom het om haar skoolloopbaan aan die private sportskool St Anne in West Virginia te voltooi.
“Dit was maar moeilik om ons jongste so ver te laat gaan,” sę haar ma.
Jermaine het twee jaar lank by die skool gebly, en was daarna ’n jaar lank tuis.
Sy het arms vol trofeë saamgebring, om op die uitstalkabinet langs haar rye en rye bekers wat sy al in Suid-Afrika gewen het, te plaas.
“Sy lyk so mooi,” vertel ma Hester.
“Sy het vertel van die klasse met niks meer as 13 kinders in nie, en die streng reëls. Sy praat met ’n Amerikaanse aksent, maar verder is sy nog nes altyd.”
By die huis het Jermaine weer saam met haar baie vriende gekuier en pasta, haar geliefkoosde gereg, gemaak.
“Jermaine praat heeldag van ons gewig. Sy wil net hę ons moet maer word,” lag Hester.
Die gesin weet nie waar Jermaine se sporttalent vandaan kom nie. Nie haar ma of drie susters, Angeline, Cristin en Jennifer, is sportief nie. Haar oorlede pa was ook nie ’n sportman nie.
Verlede week het Jermaine weer vertrek. Hierdie keer is sy na die Cloud Country Community College in Kansas, waar sy sportwetenskap sal studeer.
Haar gesin kon nie vir haar ’n borg vind nie, maar haar moeder het oplaas ’n lening aangegaan vir ’n vliegtuigkaartjie om haar talentvolle dogter op haar toekomspad te help.
“Ons hoop net nie sy kry ’n man daardie kant nie. Netnou wil sy daar bly.
“Op die oomblik stel sy egter net belang in sport, en wil sy weer eendag terugkom Suid-Afrika toe om kinders af te rig.”
* A young SA basketball star from Paarl is studying sports science and making a name for herself on the basketball courts of America.
More
News
|