Cheetahs trap klei
2007-08-23
Jacques Rossouw
DIE Vrystaatse Cheetahs het verlede Saterdag gesukkel om vastrapplek teen die Boland Kavaliers te kry tydens hul Curriebeker kragmeting by Boland-stadion op Wellington.
Of die Blikore te gerus gevoel het na hul 91-3 sege oor die Bolanders tydens die openingswedstryd van dié kompetisie, is te bespiegel, maar een ding is wel seker en dit is dat die Kavaliers die verdedigende kampioene ’n groot skrik op die lyf gejaag het.
Die speelveld die afgelope naweek was strate beter in vergelyking met dié van twee weke gelede waar die Goue Leeus letterlik gesukkel het om kop bo water te hou tydens hul 15-10 oorwinning.
Die Vrystaters het nou wel nie probleme ondervind met damme water nie, maar moes hul spelpatroon aanpas by die modderige omstandighede om uiteindelik baas te raak van die Bolanders.
Die hoofuitvoerende beampte van Boland Rugby, Piet Bergh, het gesê die unie is ’n bietjie ongelukkig oor die dreineringstelsel wat verlede jaar nuut by Boland-stadion ingesit is.
“Tans probeer ons om die skade aan die veld soveel as moontlik te beperk. Boland kry goeie blootstelling op televisie en die toestand van die veld kan ons beeld skade aandoen.
“’n Mens moet ook verstaan dat daar hierdie winter alreeds 600mm reën geval het. Die veld self is in ’n waterryke area geleë met die watertafel wat onsettend hoog is en dit bemoeilik die situasie verder.
“Die sisteem werk, maar dit is nie 100% effektief nie. Die herstel van die veld sal eers na afloop van die seisoen behartig word.
“Daar is nog twee maande se rugby oor en om nou gate te gaan grawe sal sinneloos wees,” het Bergh verduidelik.
Boland het soos teen die Leeus op verskeie gebiede baie beïndruk. Die senterpaar Antonius Verhoeven en Hein Myburgh het weereens meer as hulle kant gebring terwyl Dries van Schalkwyk en Janro van Niekerk steunpilare onder die voorspelers was.
Veral Van Niekerk het sy hand opgesteek nadat hy die Springbok-voorry Jannie du Plessis so te sê van die veld af geskrum het.
Die venynige plaasvervanger-skrumskakel Dewaldt Duvenhage het self weer ’n impak op die spel gehad nadat hy twee goeie drieë gedruk het.
Isma-eel Dollie het die drieë verdoel en ook met twee strafskoppe geslaag.
***
Boland-trui maak plek vir Absa
TOESKOUERS by Boland-stadion het Saterdag miskien te vinnig opgewonde geraak nadat die aankondiger oor die luidsprekers kennis gegee het dat Absa die nuwe borg van Boland Rugby is.
Volgens die hoof uitvoerende beampte van Boland Rugby, Piet Bergh, was hierdie inligting effens misleidend.
“Nie Boland Rugby of die Kavaliers word deur Absa geborg nie. Die sogenaamde borgskap wat genoem is, is slegs vir naamregte op die Kavaliers se truie.”
Die Absa-kenteken sal voortaan op die Boland Kavaliers se truie verskyn en is dalk ’n aanduiding van toekomstige belangstelling van ander instansies.
Die Boland Kavaliers kom 1 September (Lentedag) teen hul bure Westelike Provinsie te staan.
Hierdie wedstryd sal die tweede kragmeting tussen hierdie spanne wees in vanjaar se Curriebeker en sal by Nuweland beslis word.
Boland het gedurende die eerste ronde hul kritici stil gespeel en ook die WP-manne op hul neuse laat kyk deur die wedstryd 15-10 in stortreën te wen.
Met die Kavaliers wat sedertien 'n paar van die groter unies skrik op die lyf gejaag het, behoort WP om hul hoede te wees om nie dieselfde lot te tref nie.
More
News
|