Boland meisies trippel WP deurmekaar
2005-06-02
SPEL van hoogstaande gehalte, dit is waarop WP en Boland die skare getrakteer het by die Suidelike Netbaltoernooi wat die naweek op Stellenbosch gehou is.
Boland het WP met 12 doele geklop. Die volgehoue ondersteuning van die Bolandse skare het ’n groot rol gespeel in die tuisspan se gunstige 36-48 uitslag.
Boland het geëindig met sy beginspan en dit het ’n baie groot rol gespeel in die spelers se self- vertroue en samespel.
Die Boland se man op man (of is dit nou vrou op vrou) verdediging het meegebring dat die WP-span nie sy kenmerkende vinnige netbal kon speel nie.
Die noodsaaklike verandering in hul spelpatroon het dan ook ná halftyd sy tol geëis met die WP-spelers se gô wat vinniger opgeraak het.
Boland se doelskieters, Linda Geldenhuys en Christine Markgraaff, het met ’n gemiddelde doelslaagsyfer van 80% verseker dat alle balle wat onderskep word, in doele omgesit word.
In die Bolanders se verdedigingsirkel het Rihanna Steenkamp en Natasha Theron baie goed gekombineer en telkens omgekeerde besit vir hul span verseker.
Die toernooi was goeie voorbereiding vir die SA Kampioeskappe in Augustus en Boland kan net verder verbeter, veral aangesien die span slegs twee oefensessies deurgedraf het voor die Stellenbosse toernooi.
Dit was beslis ’n suksesvolle naweek vir die Boland, met hul o.21, asook Junior A en B spanne wat eerste geëindig het in hul onderskeie afdelings. Daarby was Boland o.19 tweede in hul afdeling.
More
News
|