Polisievrou was nie betrokke
2007-08-30
’n NAGMERRIE van bykans twee jaar het verlede week tot ’n einde gekom vir ’n polisievrou, na die selfmoord van ’n vriend.
Die liggaam van Denver Kannemeyer is in Februarie 2005 in die ouerhuis van sy vriendin, konst Levona Davids, in Paarl-Oos gevind.
Daar is oorspronklik geen misdaad vermoed nie, maar na volgehoue aandrang van Kannemeyer se familie dat hy nie in staat tot selfmoord was nie, is ’n geregtelike nadoodse ondersoek gelas.
Vandeesweek kon Davids uiteindelik weer voortgaan met haar lewe toe die hof bevind het dat Kannemeyer wel selfmoord gepleeg het en dat geen tweede party betrokke was by sy dood nie.
“Dit was ’n totale nagmerrie wat ek moes deurmaak en ek is net bly dat als nou verby is.
“Ek onthou daai dag nog so goed.
“Ek het die motor gewas toe my suster na buite kom en gesê het dat Denver homself geskiet het.
“Ek is na binne en het op die bebloede liggaam van Denver afgekom. Ek het vir hom probeer optel en met hom gepraat. Ek het ook sy pols gevoel, maar hy was reeds dood.”
Kannemeyer het homself in die mond geskiet met Davids se dienspistool.
“Toe ek van die werk afkom, het ek oudergewoonte my dienspistool in die kluis toegesluit. Denver moes die sleutel gevat het toe ek nie in die huis was nie.
“Na Donderdag se hofverrigtinge het die Kannemeyer-familie steeds buite die hof op my geskree en vir my van moord beskuldig.
"My dank aan vriende en familie vir hul bystand in die tyd toe ek dit nodig gehad het.
"As Christenmens dra ek geen wrok teenoor dié wat my verdink het nie.
"Alle lelike woorde en aanmerkings teenoor my en my familie word vergewe.
“Maar geregtigheid het geseëvier en nou sal ek die stukke van my lewe kan optel en aangaan."
* A policewoman has been cleared of any wrongdoing after an inquest revealed that her friend had committed suicide. He shot himself with her service revolver in her family home more than two year ago.
More
News
|