Tiere byt in doodsnikke terug
2005-06-02
DIE Tiere van Young Peoples het Saterdag op Belhar in ’n naelbytstryd daarin geslaag om die tuisspan met 22-18 (10-15) te klop.
Belhar, tot dusver die agteros in die Divisie 1-kompetisie, het met hernude passie en ’n paar nuwe spelers van die begin af die lewe vir Peoples baie moeilik gemaak.
Die Paarliete het egter vooraf geweet dat geen wedstryd op Belhar maklik is nie, en die druk goed geabsorbeer.
Die vaste vyf is na die Albions-wedstryd verguis, maar het Saterdag as helde uit die stryd getree.
Met die flank, Kallie Jacobs, aan die spits het die voorspelers onder die spreekwoordelike kombers gejag, en die Tiere kon met kwaliteit-balbesit vir ’n paar goeie bewegings sorg.
Die besoekers het agterlangs met entoesiastiese spel ente veld gewen, maar het nietemin gesukkel om op reëlmaat deur Belhar se verdediging te kom.
Die Peoples-verdedigers het egter self soos trojane onder die tuisspan ingeklim, en dit was op die ou end die beslissende faktor. Die Paarliete was in die laaste minuut nog 15-18 agter, en Belhar het die bal op Peoples se doellyn in die skrum geplaas.
Die Tiere se haker, Cedric Williams, het ’n belangrike vaskop gehaak waarna Peoples met ’n verwoede teenaanval begin het.
Ná drie losskrums het die slot, Carlo Carolissen, vir die wendrie oorgeduik - die seël op ’n wafferse spanpoging.
Carolissen het albei Peoples se drieë gedruk, terwyl heelagter Thysie Pietersen vier strafdoele bygevoeg het.
Peoples II het 18-13 verloor en die derde spanne het 6-6 gelykop gespeel.
Peoples speel Saterdag sy laaste eerste ronde wedstryd teen Valsbaai op Daljosafat.
Valsbaai is tans voor op die punteleer met 32 punte en hoewel niemand Peoples ’n wenkans gee nie, het dié span reeds bewys dat hy as buiteperd baie gevaarlik kan wees.
Die Tiere het niks om te verloor nie en Valsbaai kan hom maar vir ’n verwoede aanslag regmaak.
Albions en Peoples lê tans derde en vierde op die punteleer met 25 punte elk. Primrose is in die tweede plek met 31 punte.
Paarl Rugbyklub (13 punte) wat Saterdag 11-7 teen Strand vasgeval het, lê in die sewende posisie.
Franschhoek lê net bokant hul bure met 14 punte.
More
News
|