Klagtes oor ANC-raadslid
2007-08-30
May Saal
DIE optrede van raadslid Dan Kotze (ANC) rakende die gratis beskikbaarstelling van ’n lokaal op Saron sonder die nodige toestemming van die Raad of die Munisipaliteit, het opspraak veroorsaak by die burgemeestersvergadering op Woensdag 8 Augustus.
Kotze het blykbaar ’n lokaal in Saron gratis aangebied vir die Departement Arbeid as uitbetalingspunt om werkloosheidsversekering te eis.
Die Departement Arbeid het daarna ’n rekening ontvang van die Drakenstein Munisipaliteit vir die bedrag van R270 vir huurgeld vir die gebruik van die lokaal.
Hulle het ’n skrywe gerig aan die Raad waarin versoek word dat die raad die bedrag van R270 afskryf.
Aangeheg by die skrywe was ’n afskrif van 'n brief geskryf deur Kotze wat aandui dat ’n kantoor op ’n gereelde grondslag beskikbaar sal wees vir die uitbetaling van werkloosheidsversekering.
Raadslid Deetlefs du Toit wou weet of raadslede die reg het om sulke besluite te neem sonder konsultasie met die Raad of administrasie.
“Kan Raadslede eiendom van die Munisipaliteit beskikbaar stel sonder die nodige toestemming? Moet sulke dinge nie deur administrasie gedoen word, of met die Raad bespreek word nie?” wou Du Toit weet.
Die burgemeester, Koos Louw, het aangevoer dat dit ’n klein bedrag is.
“Dit is nie ’n probleem om so ’n klein bedrag af te skryf nie. Ons moet ook nie die ding persoonlik maak nie. Soms raak raadslede moeilik as hul getug word.
“Om soortgelyke voorvalle te voorkom, sal ’n omsendbrief gestuur word aan elke raadslid, waarin dit duidelik gemaak sal word dat raadslede nie by magte is om sulke tipe besluite te neem nie.
“En om die punt nou te finaliseer, sal die bedrag afgeskryf word,” het Louw sterk beklemtoon.
* The Drakenstein mayoral committee has criticised the activities of ANC councillor Dan Kotze in Saron.
More
News
|