Akteurs skitter op die verhoog
2007-08-30
David Joshua
BY die onlangse Durbanville Kunstefees vir skole, het die dramagroep van Noorder-Paarl Hoërskool presteer deur weg te loop met twee silwer toekennings en 14 brons toekennings vir hulle produksie “Oop Gesprek met ’n Hedendaagse Suid-Afrikaanse Gesin.”
Die stuk is geskryf deur een van die opvoeders, Ernest Loth, wat ook die regie behartig het.
Die stuk plaas ’n besliste klem op die wyse hoe ouers hul kinders grootmaak, én grootgemaak het, met negatiewe aanmerkings van ander mense wat hulle dan leer om dié mense maklik te oordeel en ’n etiket om iemand se nek te hang.
Dit word ’n kettingreaksie in bevooroordeeldheid wat van geslag tot geslag subtiel aangewakker word. Dit gebeur met onskuldige opmerkings wat tuis gemaak word, voor die TV, in jou motor of na ’n bier in die kroeg!
Die spelers in die produksie wissel van graad 8 tot graad 12 en is onder andere Rachel Rabie (een silwer en een brons vir twee rolle), Chaundré Johnson, Nicholas Mentoor (drie), Shameeh Aaron, Ruben Swem, Asanda Freekse en Kenneth Jacobs.
Die ander toekennings was ontvang vir Regie, Samespel, Produksie, Nuutgeskrewe Teks (silwer) en Tegniek en Inkleding. Die klank was behartig deur Paul Pietersen en Johné Baron en Bradwell Bosman was die verhoogbestuurders.
Noorder-Paarl het ook onlangse sukses behaal met die stuk “Konsternasie van die Reënboognasie (2005) en “Die Gezoem van ’n Suid-Afrikaanse By(bedoeling) verlede jaar.
Vanaand tree die skoolgroep weer op by die ATKV tienertoneelstryd by Durbanville.
More
News
|