Dié Ysterkoei sweet nie
2007-08-30
Lise Beyers
DIE dak van Hoërskool Gimnasium het Vrydagaand byna gelig, toe vyf jong rock-bands dit uitgespook het om ’n plek los te speel vir die volgende ronde van die Rockspaaider-kompetisie.
Plaaslike bands, Ysterkoei van Boishaai, en Hoppalongcassidy van Gimnasium, het deelgeneem aan die Bolandse uitdunne van dié musiek-kompetisie.
Hulle het te staan gekom teen Klipvis (Oudtshoorn), Redroom (Stellenbosch) en Fopspeen (Somerset-Wes).
Dit was ’n reuse taak vir die beoordelaars, onder wie Hunter Kennedy van FPK, om ’n finale beslissing te bereik, want al vyf rock-bands het bewys dat hulle hoogs talentvolle musikante is.
Maar dit was Ysterkoei, met hul besonderse akoestiese klank en ernstige lirieke, wat op die ou end met die louere weggeloop het.
Hulle sal voor die einde van die jaar te staan kom teen drie ander streekswenners vir die suidelike finaal.
Meer as 50 jong rock-bands van oral oor die land het vir die Rockspaaider-kompetisie, wat beskou word as die nasionale ‘battle of the bands’ vir skool-bands, ingeskryf.
Ysterkoei is reeds vier jaar aan die gang en bestaan uit vier vriende wat ’n passie vir musiek het.
Hierdie dinamiese jong manne is Danie du Toit, hoofsanger en kitaarspeler, Albert van der Merwe, kitaar, Frits Laubscher, hoof-kitaar speler en Danie se broer, Moskou, wat breëbors agter die tromme sit.
Die manne is uiters ernstig oor hul musiek en erken dat hulle so hier en daar tussen die musiek deur ’n bietjie tyd kry vir hul skoolwerk. “Maar dikwels word van ons liedjies agter die skoolbanke geskryf,” lag hulle.
Hulle glo dat hulle Paarl se naam gaan hoog hou tydens die finaal later vanjaar.
* Paarl Boys’ High rock band Ysterkoei walked off with the honours at Rockspaaider.
More
News
|