Veiling by plaasmark
2007-08-30
ONS was al almal by wynveilings waar ou wyne teen belaglike hoë pryse opgeveil word weens mededinging tussen rykes wat mekaar probeer oortref tydens liedadigheidsveilings of modevertonings.
Soms word pryse by die veilings selfs deur die eienaars kunsmatig verhoog sodat hulle kan spog met die hoë pryse wat hulle wyne op hierdie veilings behaal het.
Die afgelope naweek is daar ‘n wynveiling op Nelson Wynlandgoed in Windmeul, Agter-Paarl, gehou wat heeltemal anders was.
Wyn, kaas en olywe van verskeie familie-ondernemings is opgeveil tydens ‘n geleentheid wat Alan Nelson beskryf het as die eerste ware kommersiële wynveiling van sy soort in Suid-Afrika.
Wat hierdie veiling uniek gemaak het, was dat die bod deurlopend toegeslaan is op pryse wat gewissel het tusssen 50% en 5% onder die normale kleinhandelpryse.
Die gevolg was dat alle kopers met lekker winskopies weggestap het.
Volgens Nelson was die doel juis om hierdie resultaat te bereik en daardeur te verseker dat wynveilings in Suid-Afrika ook die kommersiële realiteit geniet wat hulle in ander wêrelddele het.
Te oordeel aan die groot aantal uiters tevrede kopers by Saterdag se veiling wat gehou is ter viering van hulle 20ste bestaansjaar, het die Nelsons beslis in hul doel geslaag.
Die wynveiling was so goed ontvang dat dit nou ‘n maandelikse instelling gaan word tydens die plaasmark wat op die eerste Saterdag van elke maand op die landgoed gehou word.
Hierdie plaasmark het nou ‘n baie gewilde uitstappie vir stadsbewoners geword weens die vrolike boeremusiek, plaasontbyt, spitbraai, meer as 50 stalletjies en hope pret wat daar is vir die hele gesin, insluitende perde- ponie- en vierwiel-ritte op die plaas.
Die kommersiële wynveilings gaan beslis ‘n bykomende aantrekking word by die markte.
Die volgende mark word gehou hierdie Saterdag op die landgoed teen die R44 in Windmeul om 13:00.
Dit is lentedag en alle besoekers kan ‘n vrolike, feestelike gebeurtenis verwag waar uitstekende wyne teen goeie pryse tydens die veiling bekom kan word.
More
News
|