Rekenaarfoefies by hierdie winkel pla
2007-08-30
EK het op 24 Julie ‘n persoonlike rekenaar by Incredible Connection in Paarl Mall gekoop. Ek verduidelik aan die verkoopsman ek soek ‘n rekenaar om op te tik.
Hy het ‘n Acer-rekenaar aanbeveel en aan my die uitstekende funksies van die rekenaar verduidelik.
Ek koop dit toe, maar na ‘n week vind ek uit dat die Microsoft Word en Excel programme gesluit is. Na vele verduideliking deur Incredible Connection, vind ek uit dat ek vir die sagteware ‘n bedrag van R1700 moet betaal.
Op die oomblik besit ek dus nou ‘n leë blik wat vir my ‘n wit olifant is. Toe ek sowat ses jaar gelede ‘n rekenaar by Morkels gekoop het, was die Microsoft sagteware gelaai. Deesdae word alles vir jou mooi geskep, maar agterna vind jy uit jy is gekul.
Ek vra aan Incredible Connection dat hulle aan die niksvermoedende verbruiker moet verduidelik dat jy net ‘n leë blik koop en dat daar geen sagteware op is nie.
Dis hulle plig om die voor- en nadele te verduidelik. Kan hulle nie die twee saamgooi en een prys maak nie?
Hoekom moet jy om die bos gelei word om ‘n goedkoop rekenaar te koop?
Ek het hul Customer Care gekontak, maar na drie dae het ek nog geen terugvoering van hulle gekry nie.
Wa se soort Customer Care is dit dan?
Ontstoke oor Foefies
Incredible Connection reageer: Die Microsoft Office pakket is ‘n gelisensieerde produk en kan ongelukkig net aan ‘n kliënt verskaf word teen ‘n addisionele koste, buiten die prys van die hardeware. In ‘n geval waar ‘n verskaffer wel die pakket saam met die hardeware verskaf, sal die addisionele koste definitief by die verkoopprys ingesluit wees.
More
News
|