Seiljagte gee wyn 'n hupstoot
2005-06-02
DIE amptelike wynverskaffer vir die Global Challenge 2004-2005 seiljagvaart is Rickety Bridge Wynkelder in Franschhoek en sedert die eerste been van hierdie wedvaart is daar ‘n baie groot aanvraag vir hierdie uitsonderlike wyne.
Die Global Challenge is bekend as die węreld se taaiste seiljagvaart en die twaalf seiljagte is tans op see in die vyfde been tussen Kaapstad en Boston in die VSA.
Die eerste been het op 3 Oktober vanaf Portsmouth in Engeland begin na Buenos Aires in Argentinië, vandaar na Wellington in Nieu-Seeland, Sydney in Australië en toe na Kaapstad.
Die seiljagte het in April in Kaapstad aangeland en het hierdie maand Kaapstad verlaat vir die derde laaste been na Boston. Die finale been sal in Julie 2005 vanaf La Rochelle in Frankryk na Portsmouth plaasvind.
Die Rickety Bridge Cabernet Sauvignon 2003 en Sauvignon Blanc/Chenin Blanc is in unieke Rickety Bridge bottels met die Global Challenge op die etiket as tema, terwyl die Rickety Bridge Merlot/Shiraz en Chenin Blanc verpak is in 3 liter kartondose met dieselfde etiket en tema.
Die wyne is by al die hawens waar die seiljagte aandoen te koop aan toeskouers en familie van die bemanning en Rickety Bridge is die afgelope maande oorval met bestellings van regoor die węreld, veral Amerika en Europa.
Die Rickety Bridge reeks wyne is in die hoë prysklas en dit is baie goed vir Suid-Afrika se beeld as ‘n produsent van hoë gehalte wyne. Indien verkope teen dieselfde tempo voortgaan, sal daar moontlik nie genoeg voorraad wees om die mark te voorsien van die Rickety Bridge Global Challenge wyne tot wanneer die laaste been eindig nie, of daarna nie.
Duncan Spence, eienaar van Rikcety Bridge, borg die deelnemer Spirit of Sark.
Rickety Bridge het onlangs sterk blootstelling gekry in die Verenigde Koninkryk se internasionale wyntydskrif, Decanter.
Die Rickety Bridge Shiraz 2000 het die Decanter Węreldwyn Toekenning 2004 ontvang vir die beste Suid-Afrikaanse wyn bo tien pond (R110) wat gemaak is van ‘n Rhône variëteit, asook die Decanter Goue Toekenning Streekstrofee 2005.
Rickety Bridge se beeld as topgehalte handelsmerk in veral Brittanje het ‘n groot rol daarin gespeel dat dit as die amptelike Global Challenge wyne gekeur is.
Die Rickety Bridge wyne word verkoop in top restaurante in Engeland, Ierland, Amerika, Japan en Suid-Afrika en die plaaslike kleinhandelprys is ongeveer R115 per bottel.
More
News
|