Mans lewend uit wrakke
2007-09-06
Malané Bosman
NIE die insittendes van 'n bakkie of die vragmotor wat bo-oor die bakkie getrap en sy treiler saamgesleep het, kon Vrydagaand glo dat hulle lewendig uit die wrakke op die Agter-Paarlpad geklim het nie.
Die bestuurder van die vragmotor, gelaai met 13 ton suiker, en ’n leë treiler agterna, het vertel hoe hy by ’n afdraande begin spoed optel het, toe ’n bakkie skielik voor hom verskyn het.
“Ek het gerem, maar die vrag stoot die lorrie nog ’n ent verder,” het ’n geskokte Coenraad Booysen van Wellington gesê.
Saam met sy passasiers, Christo Arendse en Manuel Mentoor, het hulle die aand om 21:00 langs die wrak van die vragmotorkajuit gestaan en met ongeloof gekyk hoe die bakkie se treiler onder die vragmotor vasgeknel is.
Hulle was uit Kaapstad op pad na hul depot in Agter-Paarl toe die ongeluk hulle getref het.
Byna 120m verder, waar die botsing in die rigting van Klapmuts plaasgevind het, het die bestuurder van die bakkie, Victor Davids van Kaapstad, bewend gestaan.
“’n Motor het my verbygegaan en toe skielik voor my ingeswaai,” het hy vertel.
“Toe swaai hy weer uit en toe staan daar 'n ander voertuig voor my wat wou links draai. Ek wou regs, maar toe kom die vragmotor. Ek het gerem, maar toe begin die sleepwa swaai.”
Met die slag is sy sleepwa afgeruk en die agterkant van die bakkie platgetrap. Die ongeskonde kajuit met Davids agter die stuur, is eenkant toe geslinger.
“Daar is net een man wat ek vanaand vir my lewe kan bedank,” het Davids gesê. “En dis die Man daar Bo.”
Nie een van die mans is beseer nie.
Die pad was egter ure lank gedeeltelik vir verkeer gesluit terwyl glasstukke, motoronderdele en die wrakke deur die polisie, brandweer en wegsleepvoertuie verwyder kon word.
* The four occupants of a truck and a bakkie miraculously survived an accident in which their vehicles were wrecked on the Agter Paarl Road on Friday night.
More
News
|