Vermaak rol oor planke by Ou Meul
2007-09-06
DIS passie, dis veelsydigheid, dis sommer hope vermaak te sien en te hoor in die Ou Meul-teater in die Paarl die volgende paar weke.
* Vanaand om 20:00 bewys Michael D sy veelsydigheid met elke song wat ’n unieke klank en tegniek het. Saam met hom tree Chanene op wat met haar CD “Afdraaipaadjies” bewys dat sy ballades en pop ewe goed kan doen, maar dat kabaret haar passie is! Kaartjies is R50.
* Môre om 20:00 is dit Terblanche Jordaan, Solo (R80). Uit die aard van die saak gaan die meeste van sy sang oor die ewige argument tussen hart en verstand waarvan die lyf die plek is waar hierdie twee armies mekaar aanpak en meesleur. Dit getuig van rou manlike erotiek wat gebore word uit druppels bloed, spoeg en sweet en vanuit ’n deurleefde lyf hoor jy die lament van ’n hart wat uitroep na die “ander” wat hierdie siel tot diep onder sy trap indryf. En dan weer hoor jy die lag wat jou roep vir die dans.
* Saterdagoggend om 10:00 en 11:30 is dit Prins Dirkie en die Seerowerkat. Prins Dirkie droom nog steeds daarvan om ’n ridder te wees, maar sy swaardjie is van hout, en vir gevaarlike gedoentes is hy maar skrikkerig! Hierdie keer oorreed Annabel hom om Seerower-Seerower te speel. Kaartjies kos R25.
* Saterdagaand tree Ryno Velvet op om 20:00. Ryno se musiek sal val in die smaak van almal wat hou van oorspronklike, Afrikaanse musiek. Die musiek is “diverse” en gemaklik met ’n skop van rock ’n roll, ’n paar “blues riffs” en die wonderlike geur van akoestiese “terugsit” tunes. Kaartjies kos R50.
* Vrydag 14 September om 20:00 is dit Housecoatblues met Marika Reinke en Yolande Rabé en Lukas Heinen op klavier. In hierdie produksie word die gehoor deel van die voorstoepdrama en lag en huil ons saam met die “anderkant van die chickenfencing”. Dié kabaret krap die blink stukkies snaaks uit die dowwe gruis onder die voete van mense wat die swaar pad ken. Kaartjies kos R60.
* Dinsdag 18 September om 20:00 maak Hilandi du Toit haar debuut as solokunstenaar en stel haar CD, “Spore langsaan my” bekend in ’n produksie van woord en akkoord. Verlange gaan rock en die liefde gaan skreeu tot dit nostalgies dobber onder in jou hart. Kaartjies is R40.
* Donderdag 27 September om 20:00 is dit die bekende Gert Vlok Nel. “In die Afrikaanse tradisie was daar, ten spyte van ons rykdom aan goeie songs en talentvolle eksperimente, bitter min albums en bundels wat aan al die kwalifikasies van Groot Kuns voldoen. Breyten se Mondmusiek, Van Wyk Louw se Raka, Valiant Swart se Dorpstraat Revisited, Sheila Cussons en Opperman, Koos en Gert.
“Gert is verewig of hy nou twintig bundels uitreik of met een gaan volstaan,” sê Koos Kombuis. Kaartjies is R70.
Bespreek by Vicky Stemmet, 083-564-0056
More
News
|