Willemientjie reis
2007-09-06
DIE klein, wilde meisietjie met sproete en woeste rooi hare het voorwaar nou al deur die hele Suid-Afrika gereis, maar nou vertel sy en haar vriende van ’n penarie in die Knysnawoud, ’n ontmoeting met ’n walvis, ’n seerower en ’n vreemde tog na die maan.
“Die avonture van Wilde Willemientjie” is in 2006 bekroon met ’n gesogte Kanna-toekenning as Beste kinderproduksie van die KKNK.
“Wilde Willemientjie, ’n walvis, ’n seerower en die maan” deur die bekroonde skrywer Riana Scheepers, is ’n musikale kinderversdrama uit die hoogste rakke en het gespog met ’n sterbelaaide rolverdeling van jong, bekroonde akteurs.
Dit is ’n energieke, vrolike, interaktiewe opvoering gemik op kinders van alle ouderdomme.
In die verlede is pertinent genoem dat kinders ouer as 60 voor die vertoning deeglik moet uit rus, aangesien die akteurs geen verantwoordelikheid aanvaar het vir algehele uitputting nie!
Hierdie keer wil Wilde Willemientjie werklik mense oor alle generasies uitdaag om saam met haar op een van haar energieke reise te gaan.
Regie en musiekregie word gedoen deur die begaafde Niël Rademan.
Die rolverdeling bestaan uit Lindi Smit, Gertjie Besselsen en Tanya van Tonder (as die onweerstaanbare Willemientjie). Die stelontwerp is gefasiliteer deur Jacolene de Haan.
Wilde Willemientjie, ’n walvis, ’n seerower en die maan sal tydens die Cultivariafees by La Rochelle Hoër koshuis vertoon word teen R35 op 22 September om 09:00 en 24 September om 10:00.
More
News
|