Skole is net 'n stresfabriek vir onnies
2007-09-06
EK kan nie meer stilbly oor dinge wat in die onderwys aan die gang is nie. Die sisteem werk eenvoudig nie, want te veel kinders gaan verlore in die huidige stelsel.
Ek is al 18 jaar in die onderwys en het by vier verskillende skole gewerk. Ek is pligsgetrou, hardwerkend en eerbaar en ag my roeping hoog, maar ek oorweeg dit sterk om die tuig neer te lê soos drie ander wat dit einde vanjaar by die skool gaan doen.
Probleme by skole het ontstaan toe die regering die rottang uit skole verwyder het. Alternatiewe strafmaatreëls vir oortredings werk nie.
Daar is net nie meer dissipline, orde en respek nie, want kinders doen nou net wat hulle wil. Daar word openlik gerook op skoolgronde, onderwysers word gevloek, totale chaos heers in klasse en wanpraktyke soos dwelms en seks is aan die orde van die dag.
Dis nie bevorderlik vir goeie onderrig nie en onderwysers leef in vrees Kinders met alle soort leergestremdhede word in oorvol klasse saamgegooi en die arme onderwyser moet die beste hiervan maak.
Skole is nie goeie werkplekke vir onderwysers nie, eerder ’n stresfabriek!
Onder hierdie omstandighede wil skoolhoofde en beheerrade 100% uitslae hê en duik daar probleme op, word gevra wat het meneer of juffrou gedoen om die probleem op te los.
Die blaam word amper nooit by die leerling gesoek nie en daar word nooit gevra waarom het jy nie geluister toe jou onderwyser met jou gepraat het nie.
Dan is daar nog ouers ook wat vinnig skool toe hardloop as kind kom kla het oor ’n onbenulligheid. Swaai-arms kom hulle by die skool aan om die onnie reg te sien en gewoonlik is dit die ouer wat nie self sy kind tuis kan beheer en tug nie.
Hierdie insident word kamtig gebruik om aan die kind te wys dat hulle omgee en lief is vir die kind. Hulle help egter net om die kind in sy kwaad te sterk en eendag betaal hulle die prys vir ’n ongedissiplineerde oortreder wat in die tronk beland.
Onderwysers het die afgelope sestien jaar mooi geleer om te oorleef. Daar is nie tuiswerk nie, want hoe straf jy diegene wat nie werk nie?
Onnies wil nou nie meer betrokke raak by dinge wat verkeerd loop by die skool nie want niemand gaan hom glo as hy praat nie. Dis ’n bose kringloop want hulle speel veilig en probeer hul kant skoon hou.
Ouers is gewoond om te betoog oor swak huise en swak dienste.
Hulle moet ook betoog om die onderwys te red.
Die regering moet ophou om goeie onderwys aan hul kinders te weier.
Laat toe dat orde, dissipline en respek terug in skole geplaas word. ’n Onderwyser straf uit liefde en om hul kind op die regte pad te hou.
Omgee-onnie
More
News
|