Wellington haal uit teen Stellenbosch/Distrikte
2005-03-09
DIT was weer ’n baie suksesvolle naweek vir Wellington Krieketklub, met albei spanne wat hul wedstryde teen Stellenbosch/Distrikte gewen het.
Op Pen Basson stuur Wellington I vir Distrikte in om te kolf. Die Distrikte-kolwers kom nooit aan die gang nie met die lopies wat teen ’n slakkepas aangeteken word.
Distrikte word almal uitgehaal vir slegs 147 lopies.
Albert van der Merwe (2/36) en Martin van der Merwe (4/30) is die Wellington-boulers wat met die bal uitblink.
Distrikte se voorste lopiemaker was Bradley Layman (52nun 4x3). Die tuisspan behaal die wenlopies in die 43ste boulbeurt met slegs drie paaltjies plat.
Richard Stroebel (45 4x5), Albert van der Merwe (35 4x4) en Martin van der Merwe (29nun 4x2, 6x1) het goed gekolf.
Op Idasvallei het die tweede span se kolwers Stellenbosch/Distrikte II behoorlik rondgejaag.
Miaan Rossouw (89 4x13, 6x1), Nicky Roos (46 4x5), Dennis Puchert (39 4x3) en Morné Saterdag (32 4x3) het grootliks help bou aan die enorme telling van 310.
Die tuisspan begin goed, maar die draaiballe van Anele Nanase (5/38) steek ’n stokkie voor die jaagtog en die Stellenbossers word uitgehaal vir slegs 199, vir ’n sege van 111 lopies.
Saterdag speel Wellington I op Pen Basson derby teen Bergrivier, terwyl die tweede span Sondag ook op Wellington teen Worcester United II te staan kom.
More
News
|