Boland Kavaliers bloei ná Burke-besering
2007-09-06
Jacques Rossouw
DIE kaptein en haker van die Boland Kavaliers, Conrad Burke, het Saterdag in sy 100ste wedstryd teen die Westelike Provinsie op Nuweland uitgedraf.
Hierdie wedstryd het meer trane as geluk opgelewer aangesien die Kavaliers ’n 62-10 nederlaag gely en Burke boonop weens ’n ernstige kniebesering verloor het.
Burke het ’n ligament (mediaal) geskeur en sal vir die oorblywende deel van die seisoen op die kantlyn moet deurbring.
“Dit is verseker ’n teleurstelling om die res van die Curriebeker op só ’n manier mis te loop,” het Burke vertel.
“Dit is ongelooflik frustrerend vir my, maar ek voel bevoorreg dat die Here my al met 100 wedstryde geseën het.
“Ons het hard gesukkel om ná al die terugslae hierdie jaar ’n groep in die veld te stoot wat so goed teen die groter unies kompeteer.
“Nou word ons weer deur diepte gekortwiek as gevolg van beserings.”
Burke het in 1997 aan Paul Roos Gimnasium gematrikuleer en speel sedert 2001 vir die Kavaliers. Hy het in 2003 die kapteinskap oorgeneem.
Wat die laaste paar wedstryde in die Curriebeker-reeks betref, sal die staatmakerflank, Henley du Plessis, die leisels by Burke oorneem terwyl Clement Lewis of Harry Vermaas moontlik op haker gaan inskuif.
“Onder omstandighede presteer Boland baie bevredigend,” het Burke bygevoeg.
“Ons hoop dat al die probleme nou op ’n einde is.
"Ons beoog om volgende jaar ’n span in die veld kan stoot wat nie net sal kompeteer nie, maar ook aanspraak kan maak op die titel.”
More
News
|