Man sterf toe motor rol
2007-09-13
’n MAN is die afgelope naweek dood, nadat sy voertuig “bollemakiesie” oor die pad geslaan het.
Die ongeluk het Sondagmiddag plaasgevind toe vier mans vanaf Antoniesvlei op pad terug was na Wellington.
Die bestuurder van die Mercedes-Benz, Gert Klaasen (37), het by Bovlei wynkelder vermoedelik beheer oor sy voertuig verloor.
Volgens ’n ooggetuie het die motor verskeie kere “bollemakiesie geslaan” voordat dit op die rand van die pad op sy dak bly lę het.
’n Bewys hiervan is die merke wat op die teerpad gelaat is en die puin van die voertuig wat meters ver gestrooi is.
Klaasen se liggaam is uit die voertuig geslinger en hy is op slag dood.
Drie ander insittendes, Adam Diedericks, Steven Krotz en Brian Briesies, is ook uit die voertuig geslinger.
Diedericks is met veelvuldige beserings na die Paarl Hospitaal geneem, terwyl die ander twee vir ligte beserings behandel is.
Talle drankbottels het tydens die ongeluk uit die voertuig geval.
Klaasen was ’n bestuurder by Mostert’s Transport en het saam met sy gesin op Dennegeur-plaas gewoon.
Hy word oorleef deur sy vrou Hendriena, en drie kinders, Brendon (17), Desireé en Simone (5).
Die begrafnis is Saterdag 09:00 op Dennegeur en 10:00 by die Ebenezer Kerk in Klein Drakensteinweg, Paarl.
More
News
|