Taal-erfgoed gevier
2007-09-13
DIE Afrikaanse Taalmuseum bied opwindende geleenthede aan ter viering van Erfenismaand.
Op Woensdag 19 September bied die Taalmuseum en Paarl Museum ’n gesamentlike program aan vir hoërskoolleerders.
Diana Ferrus sal by hierdie geleentheid van haar gedigte voorlees en die leerders toespreek oor die tema van Afrikaans as ’n inklusiewe taal.
Sterrekunde-entoesiaste kan Saterdagaand 22 September by Hennie Maas van “Sterre en Planete” faam aansluit vir ’n lewende uitsending van dié RSG-program. Toegang vir hierdie unieke geleentheid is gratis.
Die Bolandse kunstenaars Lee Molenaar, Nanna Vorster-Bakkes en Cathy Milner se werke sal by die Taalmonument te sien wees vanaf 21 tot 24 September.
Hierdie versameling wat strek van olie en akriel na gemengde medium op doek, sal op die terrein van die monument uitgestal word. Skakel 021-872-3441 vir meer inligting.
Om aan te sluit by die tema van Erfenismaand, “Suid-Afrikaanse poësie in oënskou”, word daar Vrydag 21 September tydens die Cultivariafees hulde gebring aan Ronnie Belcher, die vereerde
Afrikaanse digter, akademikus en wynmaker wat in 2006 oorlede is.
In ... “en maak daarmee fluit”- so onthou ons Ronnie Belcher speel Laurinda Hofmeyr, Ronnie Belcher jr, Renée Belcher-Van den Berg en Schalk Joubert getoonsette werke van Belcher.
By hierdie geleentheid is ook ’n buffet-ete met vertellings en voorlesings deur Johann Nel, Riana Scheepers, George Weideman en Elias P Nel.
Saterdag 22 September sal bekende Paarlse kos-persoonlikhede ’n spesiale potjie aanmekaar slaan by die Cultivariafees.
“Potjie ons gaan Paarl toe” is ’n gesellige byeenkoms ter herinnering aan die Paarlse potjiekos-dominee, dr Matie Brink, wat einde verlede jaar oorlede is.
Andries Krogman en Emile Joubert sal met Maureen Joubert gesels oor potjiekos, pêlle en die Paarl terwyl hulle ’n liplek-lekker potjiekos-ete voorsit vir gaste om aan te smul.
’n Dokumentêre filmvertoning deur Helena Nogueira oor Ingrid Jonker getiteld “Ingrid Jonker - her lives and time”, kom Sondag, 23 September aan die beurt.
Gesoute vertellers tree op tydens die Erfenisdagontbyt op Maandag, 24 September, waaronder Arno van Zyl, Elias P Nel, Pienkes du Plessis, Victor Fredericks. Johan Bakkes is die seremoniemeester.
“Afrikaans - taal van stryd en hartstaal,” die joernalis Amanda Botha se dokumentêre film, word Maandag 24 September vertoon. Dit word gevolg deur ’n bespreking met Amanda Botha, EKM Dido en Ampie Coetzee.
Bogenoemde funksies vind plaas in die biblioteek van Hoërskool La Rochelle.
Besprekings kan gedoen word by www.cultivaria.com of 021-872-9754.
More
News
|