Thursday 22 September 2011

This site will be updated on 30 September 2011


 

 



Search WWW
Search Paarlpost

 


Fees vir alle sintuie

Fees vir alle sintuie
 
2007-09-20


VANJAAR se Cultivaria beloof om ’n fees vir die oog en die oor te wees.

Van môre tot Maandag mik Suid-Afrika se top kunstenaars na die Paarl om in meer as 100 produksies in elf verskillende lokale op te tree.

Die twee groot vertonings wat eksklusief vir Cultivaria geskep is, waarborg om gehore mee te voer om ’n musikale reis.

Tydloos II is ’n perfekte platform vir die pragstemme van Jannie Moolman, Rina Hugo, Arina de Witt en Andre Schwartz en weens die enorme sukses van verlede jaar se produksie het die feesorganiseerders ’n vierde vertoning beplan.

Enkele kaartjies is nog beskikbaar vir die première môre om 20:30 in die Paarlse stadsaal. Ander vertonings is Saterdag om 20:00, Sondag om 11:00 en Maandag om 10:30.

Paarl Pops aangebied deur Drakenstein Munisipaliteit, sluit Maandagmiddag om 16:30 die fees op ’n hoë noot af.

Jennifer Jones, Brandon October, die Bala broers en Kevin Leo and The Sweet Voices word gelei deur die Universiteit van Stellenbosch se Simfonie-orkes.

Die Kos en Wyn Emporium by die Faure-stadion is die plek vir innerlike lafenis met kos- en wynstalletjies om van te kies en te keur.

Plaaslike wynprodusente bied hulle wyne teen kelderdeurpryse aan en die kosstalletjies bedien enige lekkerny van aarbeie en room tot Duitse disse en tradisionele kontreikos soos waterblommetjiebredie en smoorsnoek met soet patat.

Die emporium bied 2000 sitplekke en die kelners sal sorg vir ’n welverdiende ruskans.

Pianis Bram Potgieter, Nico Langeveldt en sy orkes sowel as die a capella groep Adamsappel sal deurgaans lewendige musiek verskaf.
Die orkes Cosy sal ook ritmiese vermaak verskaf met ’n repertoire wat goue oues en moderne treffers insluit, terwyl die bekende jazz-groep Dinges-hulle van die Kliphuis met Alvin Dreyers vir warm ritmes sal sorg.

Egoli-sterre Brümilda van Rensburg, Eckard Rabe en Hennie Smit sal ook handtekeninge uitdeel.

Die kuns- en wynroete skep ’n visuele paradys vir kunsliefhebbers en kunstenaars met ’n verstommende versameling.

Paarl se Hoofstraat word omskep in ’n vertoonkas waar die werk van meer as 100 kunstenaars in 14 galerye en besighede uitgestal sal word.

Besoekers kan die sensuele kombinasie van treffende kuns en voortreflike wyn gedurende die vierdag-kunskaleidoskoop geniet.

Al die uitstallings is daagliks oop van 09:00-18:00.



More News

 
    [ Top ] Tel: (021) 870-4600    email: edit@paarlpost.co.za