Vermaak uit die boonste rakke
2007-09-20
SUID-AFRIKA se voorste kunstenaars sal Vrydag tot Maandag in die Paarl in aksie wees tydens die tweede Cultivariafees.
Meer as 100 produksies gaan tydens die vier-dag kultuurfees by elf verskillende lokale op die planke gebring word en die Moir’s-saal (Strauss-saal, Drakensteinweg) spog met van die fees se top produksies.
Dit is die eerste keer dat produksies tydens die Cultivaria in hierdie saal gehou sal word.
Die MTV-bekroonde Suid-Afrikaanse popgroep Freshlyground sal die naweek se vertonings afskop met hulle unieke Afro-fusion klank Vrydagaand om 20:30 by die Moir’s-saal.
Die groep het internasionaal opslae gemaak met hulle vars vermenging van inheemse klanke uit die Karoo, Mosambiek, Zimbabwe en die Oos-Kaap.
Hulle massiewe treffer Doo Bee Doo sal gehore op hulle voete kry vir 'n musiekfees van formaat.
Saterdag is die Moir’s-saal die tuiste vir ’n lewendige opname van RSG se Kapityt met aanbieder Fritz Klaaste.
Die gehoor kry die unieke geleentheid om te kan deel in die strelende klanke van langarm- en Kaapse popmusiek saam met drie uitmuntende plaaslike groepe, Ronnie Appollis, Johnny Apollis en die Nerina Brass Band en Fire Ball. Die opname word later die aand op RSG uitgesaai.
Jazzlegende, Vusi Mahlasela, maak ’n seldsame verskyning op die Moir’s-saal verhoog Saterdagaand om 20:00. Aanhangers van hierdie internasionaal bekroonde kunstenaar sal moet spring om kaartjies te kry vir sy enigste optrede tydens Cultivaria. Vusi sal uittreksels van sy ongelooflike nuwe album Naledi! Ya Tsela speel.
Liefhebbers van klassieke musiek moenie die onoortreflike Händel se Messias Sondag 12:00 misloop nie. Die Universiteit van Stellenbosch se simfonie-orkes is onder leiding van Corvin Matei en die kenmerkende koorwerke in Händel se unieke duet-koorvorm sal deur die New Apostolic Choir uitgevoer word.
Sondag 16:00 sal die opwindende klanke van die talentvolle kitaarduo CH2 saam met die Soweto String Quartet die gehoor in die Moir’s-saal meesleur met hulle unieke kombinasie van moderne kitaarmusiek, witwarm Spaanse flamenco ritmes en die polsende Afrika-klanke.
Die grand finale van die fees vind Maandag om 16:30 ook in die Moir’s-saal plaas. Die musikale extravaganza Paarl Pops word aangebied deur die Drakenstein Munisipaliteit en sluit die fees op ’n hoë noot af.
Hierdie veelsydige produksie is spesifiek vir Cultivaria saamgestel en kombineer die energieke stemme van Brandon October, Jennifer Jones, die Bala Brothers en Kevin Leo in ’n musiekreis van nuwe en ou treffers.
Die Universiteit van Stellenbosch se simfonie-orkes sal sorg vir begeleiding tydens liedere soos A Whole New World, Hemel op Tafelberg, die Carmen Ouverture, Fever, Spirit of a Great Heart en Barcelona.
Spesiale kaartjies vanaf so min as R20 per vertoning is nou beskikbaar by die Strauss-saal.
Hierdie spesiale prys kaartjies vorm deel van Cultivaria se gemeenskapsuitreik.
Besprekings kan gedoen word op die feeswebwerf www.cultivaria.com of telefonies by 021-872 9754.
More
News
|