Rall woeker weer
2007-09-20
DIE vermeende swendelaar wat talle Wellingtonners reeds duur te staan gekom het, Colin Rall, is na bewering terug met sy ou streke.
Dit het verlede jaar geblyk dat Rall en sy vrou, Merinda, se eskapades tot ’n einde gekom het nadat die Paarl Post intensief berig het oor hul ongerymde besigheidspraktyke.
Albei is van bedrog aangekla, waarna Merinda op borgtog van R3000 vrygelaat is, terwyl Rall vir maande lank agter tralies moes sit.
Die Ralls het die sportpromosiefirma Eagle Wave, wat gehandel het as Pro Rugby, op Wellington begin.
Hierdeur het hy talle mense oorreed om geld in die besigheid te belê wat rugby-artikels bemark het. Van dié beleggings het daar egter niks gekom nie.
Aanklagte van bedrog van sover as Mpumalanga en Riviersonderend is al aanhangig gemaak teen Rall.
Klagtes van bedrog teen hom het landwyd kop uitgesteek daarom is die saak eers na die Khayelitsha Streekhof oorgeplaas, en toe na die Bellville bedrogtak.
Rall is onlangs op borgtog van R15 000 vrygelaat en volgens ten minste een klaer het hy na bewering twee skootrekenaars by sy rekenaarmaatskappy in die Strand gesteel toe hy vervalste inligting verskaf het vir die huurkoop daarvan.
Die Strand polisie ondersoek tans die klag. As Rall wel positief verbind word met dié klagtes kan hy volgens sy borgvoorwaardes hom dadelik weer agter tralies bevind.
Dit is tans onduidelik waar die Ralls tuisgaan.
* The alleged fraudster Colin Rall is once again being accused of fraud and theft.
More
News
|