Motordief vas in Hoofstraat
2007-09-20
Lise Beyers
DIE gesamentlike flink optrede van die polisie en gemeenskap het gesorg dat ’n motordief agter slot en grendel beland het.
Dit spruit uit ’n voorval Dinsdag toe ’n voertuig agter die Sanlam-gebou in Meulstraat gesteel is.
Danie Visser van JJ Locksmiths in dié gebou, vertel dat hy dadelik die klank van sy motor herken het, want die waaierband raas.
“Ek was omstreeks 12:30 in die winkel besig en my motor was agter geparkeer.
“Ek het ’n bekende klank gehoor en dadelik besef dat dit my motor was wat gesteel word.”
Visser het in een van die werk se bakkies gespring, net betyds om te sien hoe draai sy motor vanuit Meulstraat tot in die Hoofstraat.
“Ek het hom agternagesit. Hy het by Houtstraat opgery en by Proteastraat ingedraai. By Zionstraat was ek kort op sy hakke en toe hy weer in die Hoofstraat indraai moes hy seker agtergekom het dat hy nie meer ’n kat se kans staan nie.”
Die motordief het die gesteelde voertuig in die middel van die Hoofstraat gestop naby Zeederbergplein en in die teenoorgestelde rigting te voet die hasepad gekies.
Visser het om hulp geroep en nog ’n voetganger het by die jaagtog aangesluit.
’n Op-en-wakker konstruksiewerker wat tans help met die restourasie van Aslo Properties se geboue, Mario Moore, het die dief teen ’n geweldige spoed sien aankom en dadelik besef dat dié man ’n ‘nikswerd’ is.
“Toe hy by my wil verbyhardloop het ek hom geduik soos wat die Springbokke in die ou dae hul opponente raak gevat het.
“Die man het probeer loskom, maar toe was daar talle mense by om te help.”
Die polisie was vinnig op die toneel en die verdagte is deursoek en in die vangwa gelaai.
Dié storie het nie heeltemal ’n gelukkig einde vir Visser nie.
Toe die verdagte uit die voertuig gevlug het, het hy nie die handrem opgetrek nie en Visser se motor het teen ’n paal vasgerol.
Die voorkant van die motor is erg gestamp.
’n Woordvoerder van die polisie het gesê dat hierdie voorval ’n goeie voorbeeld is oor hoe die polisie en die gemeenskap saam kan werk.
“Dikwels wil lede van die publiek nie betrokke raak as hulle sien dat ’n misdaad gepleeg word nie. Hier het verskeie lede van die publiek hand bygesit om die verdagte vas te trek en ons sê vir hulle baie dankie.
“Met hierdie nuutste inhegtenisname vir motordiefstal is ons oortuig dat ons die plaag motordiefstalle wat onlangs dié gebied geteister het, sal bekamp.”
Zandile Moilase van Phillipi is in hegtenis geneem in verband met die voorval.
* ’n Man was caught red-handed when he stole a car in Central Paarl on Tuesday.
More
News
|