Opvoeding op voëlmanier
2007-09-20
’n PRAGTIGE lang dam lê hier tussen gholfputjies 11 en 21 te Boschenmeer. Papies, waterblomme en riete om die rand van die water laat die watervoëls tuis voel.
Hulle word hier min gesteur en is redelik mak. ’n Mens kan hulle lewenstyl goed afkyk.
Saam met die watervoëls het hier, oor ’n tydperk van net meer as vier jaar vandat ons hier woon, reeds 40 verskillende voëlsoorte kom besoek aflê - van die kleinste visvangertjies tot die groot Kaapse ooruil.
Onlangs het ’n paar vreemde voëls kom broei.
Hulle staan penregop met langerige nekke. ’n Kenmerkende wit aan hul wange het dit maklik gemaak om hul uit te ken in die voëlboek - nonnetjieseende - baie skaars hier, maar bekend aan die groot mere van Zambië.
Ook vir voëls is kindergrootmaak nie maklik nie.
Waterhoenders verbeel hulle die dam behoort aan hulle. Met hul kleintjies is hulle hier en daar en deurmekaar. Die kleintjies moet maar byhou as hulle kan.
Statig kom daar op ’n dag ’n kolgans-familie onverwags in die dam aangeswem. Die kleintjies word by die dag groter, maar die ouers hou deurentyd streng wag oor hulle.
Ons het al ottermis op die dam se wal voor ons huis gekry. Daar is glo skemeroggende twee otters hier gewaar. Hier is wel baie huise, maar dis nie te ver van die Bergrivieroewer af nie.
Die 14 bont kuikentjies van die nonnetjieseende bly vir eers dig bymekaar, en dan geniet hulle dit vol lewensvreugde tussen en bo-op die waterblomme.
Die meetsnoere het vir ons regtig op ’n lieflike plek geval.
Voëljagter tot voëlkyker
More
News
|