Standards eindig sterk
2007-09-20
DIE eerstespan van Young Standards Rugbyklub het verlede Saterdag hul seisoen op ’n hoë noot afgesluit nadat hulle Riverstones met 32-15 by Daljosafat tydens dié derby-kragmeting verslaan het.
Standards het uit die staanspoor beheer oor die wedstryd geneem en drie drieë tydens die eerste helfte aangeteken.
Die wedstryd is egter kort-kort onderbreek deur geniepsige spel wat die skeidsregter gereeld vir ’n geelkaart in sy broeksak laat krap het.
In ’n stadium was daar altesaam ses spelers gelyktydig in die koelkas wat die vloei van die spel erg belemmer het.
Ten spyte van die onaantreklike rugby het Standards daarin geslaag om nie deur die omstandighede beïnvloed te word nie.
Elroy Arendse, Brendan Arendse en Gerswin Hermanus (2) het die drieë vir Standards gedruk.
Enrico Davey het al die drieë verdoel en ook ’n skepskop oorgeklits om as speler van die wedstryd aangewys te word.
More
News
|