Sanger ontdek Paarlse talent
2007-09-27
Lise Beyers
VIER jong vroue van Paarl-Oos is ’n geleentheid van ’n leeftyd gebied toe hul versteekte musiektalent skielik ontdek is.
Dit is die tweede jaar wat Thaylia Ebrahim (21), Shakira Dennis (20), Samantha Williams (20) en Michelle Floris (20) as plekaanwysers werk by die Cultivaria-fees.
Hulle het verlede jaar hul werk so goed verrig dat die organiseerders dadelik weer aan hul deur geklop het met vanjaar se fees.
Sedert Vrydagaand was hulle doenig by al die produksies wat opgevoer is by die Paarl Polisiekollege.
Saterdag het hulle ’n ruskansie gehad tydens die bekende Belgiese sanger, Stef Bos, se klankrepetisie.
“Ons het op die grond gesit en rus en Stef se musiek is so mooi dat dit vir ons aangesteek het om self met ons stemme ’n ‘beat’ te maak,” het hulle vertel.
“Ons het dit nie besef nie, maar skielik het Stef stilgeraak en toe ons self stil raak, het hy vir ons nader geroep.”
Stef was so beďndruk met hul stemme dat hy vir hulle gevra het om die volgende aand as agtergrondsangers vir hom op te tree.
“Ons is baie senuweeagtig maar glo dat dit ’n wonderlike ervaring gaan wees.”
Stef het ’n stappie verder gegaan en ’n spesiale liedjie vir hulle geskryf wat Sondagaand vir die eerste keer uitgevoer is.
Nie een van die jong vrouens het enigsins musiekagtergrond nie.
Thaylia en Samantha is werkloos, Shakira studeer algemene bestuur deur die pos en Michelle werk by Paarl Web.
* Four young Paarl women working as ushers at the Cultivaria Festival were heard humming their own music by Belgian performer Stef Bos. There and then he decided to incorporate them in his show and on Sunday night they appeared with him on stage as backing vocalists.
More
News
|