Christen Vigsburo doen reuse werk
2005-06-09
DIE Christen Vigsburo, ‘n nie-winsgewende werksaamheid van die Hugenote Kollege, word beskou as een van die groot rolspelers in die effektiewe stryd teen MIV en Vigs in Suid-Afrika.
Dit was die mening van dr Sue Parry in ‘n verslag aan die Wêreldraad van Kerke in Januarie oor die reaksie van kerke op die bedreiging van MIV en Vigs in Suid-Afrika.
Dit is bevestig deur ‘n verslag van CABSA se werk wat by die pasafgelope algemene jaarvergadering van die Buro op Wellington gelewer is.
Dr Parry het daarop gewys dat die kerke deur Suid-Afrikaners gerespekteer en as geloofwaardig beskou word danksy die standpunt wat hulle teen apartheid ingeneem het.
Dit bied aan kerke die geleentheid om ‘n besondere bydrae te lewer in die hantering van baie van die komplekse vraagstukke wat met MIV en Vigs verband hou.
Dr Parry beskou die Vigsburo as dié organisasie wat die naaste daaraan kom om ‘n netwerk tot stand te bring van reaksie vanuit die Christendom in Suid-Afrika op die bedreiging van MIV en Vigs.
Dit is die Vigsburo se strategie om deur ‘n program genaamd “Kerke, kanale van hoop”, minstens 5000 opleiers en fasiliteerders oor die land op te lei met die oog op die aanbieding van werkswinkels om veral geloofsgemeenskappe te sensitiseer en mobiliseer in die stryd teen MIV/ Vigs.
Die program fokus op drie vlakke van mobilisering deur kerkleiers, gemeentegebaseerde taakspanne en fasiliteerders.
Hoewel daar aanvanklik beplan is om vier opleidingsessies gedurende die jaar te hou, het Logy Murray, die voormalige direkteur van CABSA, in die afgelope boekjaar ses sulke sessies aangebied. Aneleh Fourie le Roux, die Opleiding- en Mentorkoördineerder van die Buro, het ‘n verdere kleiner groep opgelei.
Die Vigsburo was so betrokke by die opleiding van 142 kerkleiers waarvan die meeste uit Suid-Afrika kom en enkeles uit die res van Afrika.
Hoewel die opleiding van fasiliteerders ‘n prioriteit vir CABSA is, bly die organisasie steeds betrokke by die aanbieding van werkswinkels.
Die betrokkenheid by werkswinkels bied die verdere voordeel dat CABSA se opleidingsmateriaal voortdurend verfyn en aangevul word.
Die Buro bly ook by opgeleide fasiliteerders betrokke deur as mentors te help om hulle voete te vind met die aanbieding van werkswinkels in hulle eie geloofsgemeenskappe.
Die SA Raad van Kerke het ‘n ooreenkoms met CABSA aangegaan waarkragtens die materiaal van “Kerke, kanale van Hoop” gebruik word by werkswinkels wat deur die Raad aangebied word.
Die afgelope jaar is ‘n inligting- en bronnediens ook gevestig. Dit staan bekend as CARIS (Christen Vigshulpbron- en inligtingsdiens) en is gesetel in Randburg.
Die diens het ten doel om ‘n nasionale netwerk van hulpbronsentrums daar te stel sowel as ‘n internetgebaseerde hulpbron- en inligtingsentrum.
Twee databasisse word ontwikkel: een van publikasies en ‘n ander van projekte en organisasies wat ‘n Christengebaseerde diens op die Vigsterrein lewer.
Daarmee word aan kerke en Christenorganisasies inligting verskaf wat hulle in staat sal stel om meer effektief te wees in die stryd teen MIV en Vigs en wat aan hulle die ervaring en hulpbronne van bestaande suksesvolle programme bied waarop hulle dan kan voortbou.
Kerke wat met die Vigsburo saamwerk sluit in die VGK, NGK, Anglikaanse Kerk, Calvyn Protestantse Kerk, die Bybelgenootskap, die Fontainebleau Gemeenskapskerk, World Vision International en die Morawiese Kerk.
Vir meer inligting besoek www.cabsa.co.za, bel/faks na 873-0028 of stuur e-pos na management@cabsa.co.za.
More
News
|