Feestafel vir jonges 'n wenner
2007-09-27
DIT is nie net die grootmense wat met swart pak en aandklere om ’n lang tafel in die Paarlse Hoofstraat gesit het verlede week nie.
’n Groep innoverende jong mense het besluit, aangesien Bergstraat ook vir die Cultivaria langtafel vir verkeer gesluit was, hulle sommer daar en dan ook ’n tafel sou dek.
Daar bied hulle toe hulle “Pretty in pink junior black-tie dinner”, met tien gaste aan.
“Ons is ’n groep leerders van Hoër Meisieskool en Hoër Jongenskool wat dit goed gedink het om ’n aand met finesse te reël vir mekaar,” het die skoliere aan Cultivaria direkteur Gerhard Meyer geskryf.
“Ons glo dat die jeug in die toekoms graag hierin wil deel; ons gaan die idee 20 September om 20:00 amptelik van stapel stuur.
“Dankie vir u inisiatief en aanvoorwerk. Ons sal ’n gesamentlike glasie klink te Bergstraat.”
Die skrywe is geteken Christene-Marié Louw en Stephan Louw, broer en suster van Bergstraat.
Die aand het hul agt gaste in aanddrag opgedaag en aangesit aan ’n kristalgedekte tafel, met blomme en kerse.
Diefynproersmaaltyd is deur twee bedieners in wit het uit die Louws se woning gedra, uit die kombuis waar Emay Louw, ’n dosent in huishoudkunde, die fynproewersmaaltyd voorberei het.
Musiek was onnodig, dié kon hulle sommer van die grootmenstafel in die Hoofstraat kry.
More
News
|