Belowende Bartlett blink uit
2007-09-27
Jacques Rossouw
WANNEER jy Shannen Bartlett vir die eerste keer in lewende lywe ontmoet, sal jy nie sommer sê dat hierdie fyn meisie van Wellington al op nasionale vlak aan verskeie sporte deelgeneem het nie.
Met haar groot oë en pragtige glimlag sou 'n mens dink dat sy stillerig en teruggetrokke is, maar hierdie dertienjarige netbalster van Laerskool Hugo Rust weet presies wat sy met haar talente wil bereik en is ook nie skaam om dit reguit te sê nie.
Bartlett is onlangs by die Wes-Kaapse o.13 netbalspan opgeneem wat aan die nasionale kampioenskap in Johannesburg gaan deelneem het.
Ná afloop van dié toernooi is sy aangewys as een van die tien belowendste o.13 netbalspelers in die land.
"Netbal is maar in ons familie," het Bartlett trots gesê.
"My ma en my tannie het almal netbal gespeel. Selfs my ouma het op haar dag die Wes-Kaap verteenwoordig.
"Ek hou baie van netbal aangesien dit 'n lekker spansport is wat ek altyd geniet en ook saam met my vriende kan speel.
"Netbal is net eenvoudig vir my die lekkerste," het Shannen verduidelik.
"Ek was baie opgewonde en trots toe ek as een van die belowendste spelers by die SA's benoem is. Dit is nogal 'n groot eer en beteken vir my baie."
Shannen het vroeër vanjaar 'n draai by die SA atletiek-kampioenskap gaan maak waar sy aan die 75mH en 200mH deelgeneem het.
Sy het 'n tydjie gelede ook haar gimnastiekloopbaan gestaak om meer aandag aan netbal te gee alhoewel sy in die verlede ook al in hierdie sportkode aan die SA kampioenskap deelgeneem het.
As 'n aktiewe meisie is Shannen ook baie lief vir swem, maar spandeer deesdae omtrent al haar tyd aan netbaloefeninge.
Shannen is tans in graad 7 en blyk opgewonde te wees oor die feit dat sy volgende jaar by Hoër Meisieskool Paarl gaan aansluit.
"Die besluit om Girls' High toe te gaan was grotendeels om my sport te verbeter.
"Wat afrigting en fasiliteite betref, dink ek kan hulle (HMS) my ongelooflik baie help."
Shannen is oorgehaal om vol-stoom met haar netbaltalente te woeker en sien verder daarna uit om ná skool moontlik 'n professionele sportvrou te word.
* The talented, young Shannen Bartlett from Hugo Rust Primary was recently named one of the ten most promising players at the SA netball championship held in Johannesburg.
More
News
|